On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

MultiChoice nou in Franse hande – ‘intekenaars gaan voort soos altyd’

───   15:09 Mon, 22 Sep 2025

MultiChoice nou in Franse hande – ‘intekenaars gaan voort soos altyd’ | News Article
Die Franse mediakonglomeraat Canal+ het amptelik sy miljarde-dollar-verkryging van die Suid-Afrikaanse uitsaaier MultiChoice afgehandel.

Alles bly vir eers vir DStv-intekenare presies dieselfde, maar die pas afgehandelde transaksie van miljarde dollar waarin die Franse mediagroep Canal+ amptelik dié uitsaai-onderneming oorgeneem het, hou groot belofte vir die toekoms in.

Dit blyk uit ’n gesamentlike mediaverklaring Maandag tussen Canal+ en MultiChoice. Daarin is aangekondig dat die verkryging nou ’n wêreldwye vermaaklikheidsgroep tot stand bring met bedrywighede in byna 70 lande en met meer as 40 miljoen intekenare in Afrika, Europa en Asië. 

“Jou vermaakreis het pas groter geword! MultiChoice het by Groupe CANAL+ aangesluit, en ons bou saam met jou aan ’n sterker toekoms vir vermaak,” lui die verklaring. 

Die maatskappye bevestig dat die transaksie, wat meer as $2 miljard werd is, die grootste is wat Canal+ nog onderneem het. Volledige integrasie word in Oktober verwag.

Volgens die Canal+-hoof, Maxime Saada, versterk die verkryging hul leierskap in Afrika, “een van die mees dinamiese betaaltelevisie-markte ter wêreld.” 

Die oorneming stel Canal+ in staat om sy invloed verder as Franssprekende Afrika uit te brei na Engels- en Portugeessprekende markte, en verhoog sy vermoë om in plaaslike inhoud en sportuitsendings te belê.

“Soos ons MultiChoice integreer, verhoog dit ons vermoë om kreatiewe en sportinhoud regoor Europa, Afrika en Asië te ondersteun,” het Saada bygevoeg.

Intekening bly dieselfde

Vir DStv-intekenare is die boodskap duidelik: geen verandering aan jou diens of intekening nie. 

“Jy sal steeds dieselfde DStv-kanale, programme en dienste geniet wat jy ken en liefhet,” sê MultiChoice in ’n e-pos aan gebruikers. 

Geen optrede is nodig nie – dekodeerders, afstandbeheerders en toepassings bly onveranderd.

Leierskap verander

Die verkryging bring ook ’n leierskapverandering mee. MultiChoice se raad het Maandag bedank, en die Canal+-bestuurders David Mignot en Nicolas Dandoy neem oor as uitvoerende hoof en finansiële hoof van Canal+ Afrika.

Calvo Mawela, die uittredende uitvoerende hoof van MultiChoice, word voorsitter van die Afrika-bedrywighede, terwyl Tim Jacobs in ’n senior finansiële rol aanbly.

Mawela het die oorgang as “’n opwindende nuwe reis” beskryf. “Oor drie dekades het ons iets besonders opgebou, gegrond in innovasie, veerkragtigheid en ’n gedeelde verbintenis om uitstekende inhoud aan ons gehore te bring.”

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.