On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

South Africa

Kinderoppasser vas wat glo baba gaps om kêrel te flous

───   ZENANDE MPAME 12:12 Mon, 29 Sep 2025

Kinderoppasser vas wat glo baba gaps om kêrel te flous | News Article
’n Kinderoppasser is vas wat glo haar werkgewer se baba met haar saamgeneem het om haar kêrel te flous. Foto: X

Hoe gemaak as ’n mens R2 500 per maand onderhoud kry vir ’n baba wat nie bestaan nie?

In Durban het ’n kinderoppasser na bewering haar werkgewer se nege maande oue baba gesteel om haar kêrel te laat glo hy het ’n kind by haar verwek. Die vrou (35) sou Maandag (29/9) in die Durbanse landdroshof verskyn ná haar inhegtenisneming op Empangeni vir die beweerde ontvoering van ’n kind in Durban. 

Die baba se ma het Saterdagmiddag tuisgekom en vasgestel haar kleinding sowel as die oppasser is weg. 

Sy het die oppasser gebel, wat gesê het sy is op Empangeni, maar sy kon nie verduidelik waarom sy die kind sonder toestemming geneem het nie, sê lt.kol. Paul Magwaza, KwaZulu-Natalse polisiewoordvoerder. 

Die oppasser het glo ook verwag dat die moeder self na Empangeni kom om haar seun te haal.

‘Die kind is ongedeerd gevind en vir ’n mediese ondersoek geneem’

Die saak is dadelik by die Durban-Sentraal-polisiekantoor aangemeld, wat meegebring het dat alle relevante polisiedienste geaktiveer is. “Sondag in die vroeë oggendure is ’n polisie-operasie in Empangeni uitgevoer, waarin die 35-jarige vrou in hegtenis geneem is,” sê Magwaza.

“Die kind is ongedeerd gevind en as voorsorgmaatreël vir ’n mediese ondersoek geneem. Verdere ondersoeke het aan die lig gebring dat die verdagte haar kêrel vertel het die kind is hulle s’n, vir wie se versorging hy haar maandeliks R2 500 betaal.”

Intussen sal ’n vrou (39) Dinsdag 4 November in die Mashishing-distrikshof (voorheen Lydenburg) verskyn op ’n aanklag van die onwettige besit van menslike weefsel.

Rose Mnisi sal op ’n aanklag van die onwettige besit van menslike weefsel verskyn. Foto verskaf

Die polisie het ’n wenk ontvang oor ’n vrou wat glo kopers gesoek het vir menslike liggaamsweefsel. Luidens berigte het die vrou geryloop na Nelspruit.

Polisiebeamptes het die leidraad opgevolg en op grond van die beskrywing kon Rose Mnisi opgespoor word met ’n plastieksak waarin menslike weefsel was. Mnisi het bevestig dat sy ’n skoonmaker in die kraamsaal is.

“Mnisi is op borgtog van R10 000 vrygelaat,” sê Donald Mdhluli, Mpumalanga-polisiewoordvoerder. “Die polisie kan nie die moontlikheid van bykomende aanklagte uitsluit nie, aangesien die ondersoek voortduur.”

OFM Nuus cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.