On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

‘Nie totsiens, maar vaarwel’: Noordwester-koerantgroep sluit deure

───   SUSAN MARÉ 14:13 Thu, 02 Oct 2025

‘Nie totsiens, maar vaarwel’: Noordwester-koerantgroep sluit deure | News Article
Jan Palm saam met die Hugo’s voor hul kantoor. Foto verskaf

Daar is ’n tyd om te kom en te gaan. Frans Hugo (92) van Calvinia was waarskynlik nog tot in September vanjaar die oudste werkende redakteur en koerantuitgewer in Suid-Afrika.

Ná ’n lang loopbaan in die koerantwêreld as uitgewer en redakteur moes hy egter sy geliefde Noordwester, Victoria-Wes Messenger en Oewernuus se deure sluit. Die Noordwesters en Hantambergers huil saam oor hierdie verlies.

Frans en sy vrou, Maxie (82), was ’n redaksie- en administriewe span tot aan die einde toe die koerante finansieel nie meer haalbaar was nie. As skoolseun in Fraserburg was Frans al ’n ywerige leser wat goeie opstelle geskryf en gedink het hy het ’n toekoms as digter.

’n Voorblad van die Noordwester. Foto verskaf

Sedert 1949 was hy in die drukkersbedryf betrokke. Hy was vir 19 jaar werksaam in Kaapstad by die destydse Nasionale Pers en toe vir tien jaar in Windhoek by die dagblad Die Suidwester, waar hy redakteur van ’n weekbladjoernaal was.

In 1955 is hy as gekwalifiseerde vakman aangestel as bestuurder en redakteur van Karoo Drukpers, wat die weekblad Victoria West Messenger uitgegee het. Die koerant is in 1876 begin.

Hier kon hy sy liefde vir woorde uitleef deur elke week berigte te skryf en die tegniese set- en bladuitlegwerk te behartig. In 1980 het hy die Noordwester op Calvinia oorgeneem en metteryd ook die Kontreinuus op Carnavon en die Victoria-Wes Messenger. Hy het Oewernuus in 1994 in Prieska begin.

Bets du Pisanie, die korrespondent op Prieska, en haar man, Koos. Foto verskaf

Frans vertel die drukkery in Calvinia het in 1980 in loodletters geset en gedruk. Dit is mettertyd opgegradeer na Linotype-setmasjiene en ’n fotosetter. 

Uiteindelik is ná die tydperk van die faks-periode ook na rekenaar oorgeskakel en is e-pos en die internet gebruik. Die vlakdrukmetode, op drie A3 Hamada-drukmasjiene met kameras en filmplaatmakers, het gevolg.

“Voordat die internet papierkoerante platgeslaan het, het Noordwester Uitgewers 16 mense in diens gehad. Toe ek in September die koerante gestaak het, het vyf tegnici en twee redaksielede die werk behartig, bygestaan deur korrespondente op elke dorp in die sirkulasiegebied.


“Die sirkulasiegebied was Nieuwoudtville en Loeriesfontein in die weste tot Prieska en Victoria-Wes, en in die verre ooste was dit Sutherland in die suide en Brandvlei in die noorde.”

Max was sy spanmaat in die redaksie en administrasie. 

“Vir ons was dit elke week ’n uitdaging om iets nuut te skep wat nog nie bestaan het nie. Ons het lekker saam met korrespondente en rubriekskrywers gewerk.

Poskantoor en treine

“Dit voel nog onwerklik om nie meer nag en dag te werk om die koerante uit te gee en af te lewer nie. Daar sal ná dese baie tyd op hande wees wat geleentheid sal bied om meer na die radio te luister en te lees.”

Die aflewering van die koerante deur die jare is ’n ander storie. In die begin is alles heen en weer per trein en die poskantoor gestuur, maar nadat dié dienste gekwyn en verdwyn het, was dit nodig om die aflewering van die koerant self te behartig. 

Dit het uiteindelik ’n reis van 1 200 km elke week beteken vanaf Calivina tot by Prieska en Victoria-Wes.

Koffiefles en eiers

Daar word vertel dat hy net ná middernag vertrek het met sy kosbare vrag gemeenskapskoerante en eers sowat 18 uur later terug was op Calvinia. Hy het altyd met ’n doek oor sy skoot gery om sonbrand te keer, en was gewapen met ’n fles koffie en hardgekookte eiers.

Lesers in die Noordweste is platgeslaan omdat hul koerante nie meer weekliks daar gaan wees nie. Streek- en gemeenskapsnuus is veral vir mense in die uitgestrekte Karoo op klein dorpies ’n lewensaar.

Een van sy korrespondente, Bets du Pisanie van Prieska, sê dit was met groot hartseer dat mense op die voorblad “Nie totsiens, maar vaarwel” moes lees.

‘Die einde van ’n era en ’n groot stuk geskiedenis wat op die rak gebêre word’

“Die sluiting van ’n koerant is soos ’n boek wat finaal toemaak. Dit is die einde van ’n era en ’n groot stuk geskiedenis wat op die rak gebêre word. Vir ons was dit ’n groot eer om deel te kon wees van die Noordwester-koerantgroep. Die werksetiek wat ons by oom Frans geleer het, is iets wat nog selde te vind is.

“Die koerantgroep het so ’n groot bydrae gelewer aan die mense van die Noordweste.”

Du Pisanie vestig haar hoop daarop dat ’n koerantmuseum oorkant die Rooi Posbus op Calvinia gaan open.

OFM Nuus/Susan Maré cvs/mvh


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.