On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Motoriste gemaan om lisensieskyfie voor feestyd te hernu

───   ZENANDE MPAME 13:32 Mon, 13 Oct 2025

Motoriste gemaan om lisensieskyfie voor feestyd te hernu | News Article
Motoriste gemaan om lisensieskyfie voor feestyd te hernu. Foto: iStock

Die padverkeerskorporasie gaan kennisgewings per SMS en e-pos uitstuur aan alle motoriste wat op sy hernuwingsplatform geregistreer is om hulle te herinner om hul lisensieskyfies betyds te hernu.

Met dié dat die feestyd vinnig nader, vra die korporasie motoriste moet hul voertuie se lisensie hernu voor hulle hul reisplanne afhandel. Só kan hulle met gemoedsrus in die pad val. 

Altesaam 1 002 771 lisensieskyfies verval einde Oktober, 1 060 382 einde November en 1 112 393 einde Desember. Sowat vyfmiljoen voertuiglisensies is reeds op die aanlyn platform hernu sedert die bekendstelling daarvan in 2022.

’n Taamlik nuwe funksie op die platform is die aanlyn voertuigregistrasie en verandering van eienaarskap. Hierdie diens is gemik op motorhandelaars wat grootmaattransaksies hanteer en ’n vinnige, veilige platform nodig het om voertuie te registreer.

Omdat die somervakansie om die draai is, raai die korporasie motoriste aan om vroegtydig reëlings te tref om hul lisensieskyfie te hernu voordat dit te laat is, sê woordvoerder Sipho Zwane.

“Meer as ’n miljoen skyfies verval in Oktober en moet teen die einde van die maand hernu word. Daar is ’n maklike manier om hierdie dokumente aanlyn te hernu op die Natis-webwerf; dit is die gerieflikste en gewildste metode.

‘Meer as vyfmiljoen transaksies is reeds op hierdie platform afgehandel’

“Meer as vyfmiljoen transaksies is reeds op hierdie platform afgehandel, en dit is tans die grootste hernuwingsplatform in die land. Ons raai dus motoriste aan om dit te gebruik en voordeel te trek uit die gerief, veiligheid en bekostigbaarheid van die platform.”

Volgens Arrive Alive het kliënte van groot bankinstellings soos Capitec, Eerste Nasionale Bank en Nedbank toegang tot die platform via hul bank-app. Die platform bied nou ook aan motoriste ’n veilige diens om hul Aarto-handhawingsbevele te betaal. 

Dis ’n finale kennisgewing wat uitgereik word wanneer ’n bestuurder nie binne die voorgeskrewe tydperk van 32 dae op ’n oortredingskennisgewing en daaropvolgende brief reageer nie. Altesaam 120 230 veranderinge van eienaarskap is tussen April en Oktober op die platform uitgevoer en in dié sewe maande het 78 239 registrasies plaasgevind.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.