South Africa
VF Plus bied hulp aan om meesterplan vir landbou op koers te kry─── 14:24 Mon, 20 Oct 2025

Die VF Plus wil ’n bemiddelingsrol speel in die oplossing van jare lange geskille oor die landboumeesterplan, wat sedert 2022 die fokus van verdeeldheid in die landbousektor is.
Die party bied aan om dié rol te vervul, omdat dit “in die belang van alle Suid-Afrikaners is dat die landboubedryf optimaal funksioneer, en die plan op ’n stewiger grondslag gevestig word”. ’n Ontleding van die geskilpunte en gesprekke met verskeie rolspelers – behalwe vakbonde – “toon dat daar veel meer ooreenstemming in beleid en beginsels is as wat die huidige dooiepunt weerspieël”.
Dr. Corné Mulder, VF Plus-leier, benadruk in ’n mediaverklaring die VF Plus is gereed om gesprekke te fasiliteer en konsensus te help bou.
Dr. Corné Mulder. Foto: X/VF Plus
Die landboumeesterplan is oorspronklik deur die regering aanvaar as ’n strategie om groei en transformasie in die landbou- en verwerkingssektor te bevorder. Tog het die implementeringsproses verskeie sleutelorganisasies uitgesluit, insluitend werkgewers-, verbruikers- en bedryfsliggame.
“Die VF Plus dring aan dat minister John Steenhuisen hierdie tekortkominge erken en regstel, al het dit onder sy voorganger, Thoko Didiza, ontstaan,” sê Mulder.
Die party stel ook voor dat ’n oudit gedoen word oor die verteenwoordiging van plaaswerkers deur vakbonde, aangesien sommige van dié liggame nie werklik steun in die sektor geniet nie. Die VF Plus meen Steenhuisen behoort werk te maak van die tekortkominge, omdat sy party, DA, reeds in 2022 en 2023 die standpunte van organisasies soos Saai en TLU SA oor die plan se tekortkominge gesteun het.
AgriSA steeds verbind
Steenhuisen het in ’n RSG-onderhoud op 8 Oktober erken dat die plan gebreke toon en gesê volhoubaarheid en winsgewendheid moet kernaspekte van enige nasionale landbouplan wees. Organisasies soos AgriSA en Agbiz het ook aangedui dat hulle nie ’n prominente rol vir volhoubaarheid en winsgewendheid in die plan sal teenstaan nie.
Jaco Minnaar, voorsitter van AgriSA, het verlede week op die organisasie se jaarkongres gesê hoewel die meesterplan nie foutloos is nie, bly AgriSA en sy rolspelers daartoe verbind om die plan uit te voer tot voordeel van die landbousektor. Steenhuisen se verbintenis tot die plan is bemoedigend, het hy bygevoeg.
Die VF Plus beklemtoon dat transformasie nie bo volhoubaarheid gestel kan word nie, en verwys na die Landbounavorsingsraad se mislukking om boere tydens die bek-en-klouseerkrisis van voldoende entstowwe te voorsien as ’n voorbeeld van die gevolge van swak beleid.
Geen openbare besware
Die uitsluiting van die wildbedryf uit die meesterplan – ondanks aanvanklike insluiting en die steun van sowel die VF Plus as die DA – word as onverklaarbaar en onaanvaarbaar beskou.
Steenhuisen het by Huntex 2025 bevestig dat hy die wildbedryf na sy departement geskuif het en geen ondertekenaar het openbare besware teen die insluiting geopper nie.
Die VF Plus waarsku teen politieke magspele wat die sektorale plan gyselaar hou, en dring aan dat al die rolspelers om ’n tafel saamgebring word om die verskille op ’n deursigtige wyse uit te stryk. Die party glo dit is in belang van die land en bied aan om dié proses te lei.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus cvs/mvh