On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

South Africa

Pleitooreenkoms: Deveney se moordenaar kry 25 jaar

───   15:08 Fri, 17 Oct 2025

Pleitooreenkoms: Deveney se moordenaar kry 25 jaar | News Article
Die vermoorde Deveney Nel van Caledon. Foto verskaf

Die 18-jarige, wat tereggestaan het weens die moord op Deveney Nel (16) van Caledon, is Vrydag (17/10) in die hooggeregshof in Kaapstad tot 25 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis.

Die vonnis volg op ’n pleit-en-vonnisooreenkoms waarin die jong man, wat nie geïdentifiseer mag word nie ingevolge die Kinderwet, skuldig bevind is aan moord en regsverydeling, berig News24. Deveney, ’n graad 10-leerling aan die Hoërskool Overberg op Caledon, is op 7 Augustus 2024 dood aangetref in ’n pakkamer op die skoolterrein. 

Uit die ondersoek het geblyk sy is vermoedelik van ’n toilet na die pakkamer gesleep en met ’n skerp voorwerp doodgesteek.

Die beskuldigde, destyds 17 jaar oud en ’n medeleerling, is op 16 Augustus verlede jaar in hegtenis geneem. Hy het die volgende maand sy borgtogaansoek laat vaar. Die saak is later na die hooggeregshof oorgeplaas vir verhoor agter geslote deure, aangesien hy ’n minderjarige was toe die misdaad gepleeg is.

Verkragklag teruggetrek

Hoewel ’n aanklag van verkragting aanvanklik deel van die klagstaat was, is dit later teruggetrek ná oorleg tussen die staat en die beskuldigde se ma, wat tot die pleitooreenkoms ingestem het.

Volgens bronne het ao. Johan (Baksteen) Louw, die ondersoekbeampte in die saak, kliphard gewerk om geregtigheid vir Deveney te laat geskied. 

Die saak het landwyd aandag getrek en vrae laat ontstaan oor veiligheid op skoolterreine en die hantering van ernstige misdade deur minderjariges.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus



@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.