On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Ouma van 93 se breiwerk laat kinderogies glinster

───   SUSAN MARÉ 15:28 Mon, 20 Oct 2025

Ouma van 93 se breiwerk laat kinderogies glinster | News Article
Phia Venter (93) van Retire at Home in Centurion brei heeldag speelgoed vir minderbevoorregte kleingoed. Foto verskaf

Vir sommige bejaardes het die ouderdom nie brieke nie. Phia Venter (93) van La Gratitude in Centurion is een van hulle, en haar breinaalde klik sommer heeldag.

Phia is weens ouderdomskwale dalk nie meer in die “hoogste rat” nie, maar selfs dít keer haar nie om veral vir klein kinders speelgoed te brei nie. Van Januarie tot in Oktober 2025 het sy al 50 diertjies ten spyte van swak sig en ’n mate van artritis gebrei. 

Sy brei balle, muise, wurms, olifante en ander speelgoed om ’n vonkel in kinders se oë te sit. Eindelik beland dit by die Groei-Goggas Ontwikkelingsentrum in Danville in Pretoria. 

Groei-Goggas is ’n Christelik-gebaseerde sentrum vir Afrikaanssprekende, behoeftige kleuters en ’n geregistreerde maatskappy sonder winsoogmerk. Die speelgoed bied waardevolle emosionele steun aan die kinders.

Phia van Helden, haar dogter, ook van Centurion, is haar administratiewe regterhand en sorg dat die gebreide speelgoed verpak en by die regte adres afgelewer word. “My ma is n inspirasie vir ons as haar kinders, vir haar klein- en agterkleinkinders,” sê Van Helden.

“Sy sê gereeld mens is nooit te oud om iets vir ander te doen nie. Sy vrees ook nie die onbekende toekoms nie, want sy en haar nageslag weet die Here het ook die toekoms in sy vaderhand.”

Phia Venter (93) saam met haar dogter, Phia van Helden. Foto verskaf

Sy brei miskien stadiger as voorheen, maar bly gefokus op haar breiwerk – ten spyte van probleme rakende oog- en handkoördinasie – al is dit net so 20 rye per dag. Haar verstand is klokhelder en sy is mensliewend.

Dié nooi Potgieter het aan die Hoërskool Brits gematrikuleer en as laerskoolonderwyser gewerk ná haar studies aan die onderwyserskollege in Heidelberg. 

Haar hart vir kinders in haar ouderdom klop steeds sterk. 

Van Phia Venter se handewerk. Foto verskaf

Danksy twee kinders, sewe kleinkinders en 19 agterkleinkinders voel sy gelukkig en tevrede. Die kleinkinders word gereeld bederf met die speelgoed wat sy brei.

Haar kleindogter Corlia van Biljon en haar man, Frikkie, sê ouma Phia is ’n diep gelowige mens wat haar gawes wyd deel. Sy sit nooit stil nie en was lewenslank altyd besig met baie dinge. 

Dit lyk nie vir hulle of die breiwerk op 93 jaar gaan ophou nie, want daar moet gedurig nuwe wol aangekoop word. 

Die speelgoed word deur haar dogter Phia van Helden versamel en versprei. Foto verskaf

“Dié ouma van ons kon nog nooit stilsit nie,” sê haar aangetroude kleinkind Frikkie. “Sy het ’n helder verstand, en as sy eers ingekoop het in ’n liefde vir iets, is daar nie keer nie. 

“Sy sê sy voel nie so oud nie. Haar liefde vir tuinwerk kom ’n leeftyd lank, maar sy kan haar ongelukkig nie meer daarin uitleef nie.  

“Sy sou in die nag onthou van ’n takkie in die tuin wat haar pla, wat gesnoei moet word, en die volgende dag, heel eerste, snoei sy die tak. Sy is ’n inspirasie, en ek het al baie by haar geleer wat ek persoonlik en in my werk kan toepas.”

Waarde bo korale

Phia sr. is een van daardie deugsame vroue met haar waarde ver bo korale. Dit sal al haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders met oorgawe bevestig. 

Selfs in haar ouderdom leef haar passie vir kinders voort en laat sy weer hulle ogies blink.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Susan Maré cvs/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.