On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Suid-Afrikaners oorsee se paspoorte nou tuis afgelewer

───   11:57 Thu, 23 Oct 2025

Suid-Afrikaners oorsee se paspoorte nou tuis afgelewer | News Article
Dr. Leon Schreiber, minister van binnelandse sake, open Woensdag die nuwe dienssentrum in Den Haag. Foto: Business Report

Suid-Afrikaanse burgers wat oorsee woon, kan voortaan hul paspoorte regstreeks by hul voordeur afgelewer kry.

Dr. Leon Schreiber, minister van binnelandse sake, het dié aankondiging Woensdag (22/10) aan die Suid-Afrikaanse gemeenskap in Den Haag, Nederland, gemaak waar sy departement ’n nuwe toegewyde dienssentrum geopen het. Die diens begin op 1 November.

Die sentrum verminder die wagtyd vir paspoortaansoeke drasties – van selfs 18 maande tot slegs vyf weke, sê die departement in ’n mediaverklaring. Vir die eerste keer bied die departement nou aan kliënte die opsie om hul dokumente per koerier te ontvang, eerder as om weer ’n kantoor te moet besoek net om hul dokument te kom afhaal. 

Suid-Afrikaanse burgers oorsee kan voortaan hul paspoorte by hul voordeur afgelewer kry. Foto ter illustrasie: iStock

Die aanvanklike bekendstelling van hierdie diens vir Suid-Afrikaners oorsee dien as ’n toetsfase waarin die departement die proses kan verfyn en vervolmaak, voordat dit later ook in Suid-Afrika beskikbaar gestel word.

Vanaf 1 November sal die koerieropsie beskikbaar wees by al die nuwe dienssentrums van die departement van binnelandse sake regoor die wêreld. Die afleweringstyd sal wissel tussen 24 en 72 uur en die koste sal tussen $30 en $60 beloop. 

Aanvanklik sal die diens beskikbaar wees by bestaande sentrums in 18 stede wêreldwyd, met nog sentrums wat in die komende maande geopen sal word.

‘Ons werk met dringendheid om ons departement te hervorm’

Inligting oor al die punte waar hierdie diens vanaf 1 November ingestel word, is aanlyn beskikbaar.

“Hierdie dapper hervorming bevorder nie net inklusiwiteit deur ou probleme op te los wat Suid-Afrikaners oorsee ervaar het met paspoortaansoeke nie, maar is ook ’n waterskeidingsoomblik vir #TeamHomeAffairs. Ons werk met dringendheid om ons departement te hervorm van ’n agteros tot ’n wêreldleier in identiteitsbestuur.”

Die die visie “‘Home Affairs@home” streef sy departement daarna om die situasie uit te skakel waar mense ver moet reis en in rye moet staan. “Ons digitale transformasie beteken ons gebruik tegnologie om toegang te desentraliseer en dienste direk aan Suid-Afrikaners te bring – waar hulle ook al woon.”

Opsie straks vir almal

“Sodra die departement tevrede is die aflewering by die voordeur verloop glad en veilig vir die relatief klein groepie Suid-Afrikaners oorsee, sal die diens uitgebrei word om aan alle Suid-Afrikaners die opsie te bied om hul dokumente by hul voordeur afgelewer te kry. 

“Dit sluit ook ons nuwe digitale vennootskap met die banksektor in. Hierdie stap toon die tegnologiegedrewe diensleweringsrevolusie by binnelandse sake kry steeds momentum terwyl ons daarna streef om almal se menswaardigheid te verseker.”

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus cvs/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.