South Africa
Hoofregter soek bewyse ná kritiek op senior regter─── 09:20 Fri, 24 Oct 2025
Die regbank spreek ernstige kommer uit oor bewerings voor die Madlanga-kommissie van miljoene rand wat glo betaal is om borgtog vir ’n leier in die onderwêreld te verseker – en dat regter Aubrey Ledwaba betrokke kan wees.
’n Getuie, om veiligheidsredes net bekend as Getuie A, het Dinsdag (22/10) aan die kommissie gesê ’n informant het hom meegedeel R2,5 miljoen is geoormerk om borgtog vir Katiso (KT) Molefe te verseker. Die getuie het erken hy weet nie of die geld bedoel was vir Ledwaba of vir die staatsaanklaer wat die saak hanteer nie.
Die bewering teen waarnemende regterpresident Ledwaba, hoewel nie geverifieer nie, kan openbare vertroue in die regbank te skaad, sê hoofregter Mandisa Maya.
Maya vra enigiemand met geloofwaardige bewyse van wangedrag deur ’n regter moet ’n formele klag by die regterlike gedragskomitee van die regterlike dienskommissie (RDK) indien vir ondersoek.

Regter Aubrey Ledwaba. Foto: X
“Die RDK het die wettige bevoegdheid om bewerings teen enige regter te ondersoek en, indien nodig, skorsing by die president aan te beveel. Maar geen formele klag is nog in hierdie verband ingedien nie.”
Molefe, wat van die moord op die ingenieur Armand Swart op 17 April 2024 aangekla word, is deur Ledwaba in die Gautengse hooggeregshof borgtog toegestaan.
Volgens Getuie A het Ledwaba die besluit binne ’n uur geneem, sonder om die vereiste “uitsonderlike omstandighede” vir Skedule 6-aanklagte duidelik te motiveer. Molefe is vroeër borgtog in die landdroshof geweier, maar het suksesvol geappelleer.

Die vermoorde Armand Swart. Foto: X
Maya sê sy het die bewerings met Ledwaba bespreek en die moontlikheid oorweeg om spesiale verlof aan hom toe te staan, hangende die afhandeling van die Madlanga-kommissie se werksaamhede.
Ledwaba ontken hy het enige geld ontvang om borgtog aan Molefe toe te staan, en sê hy is nie van plan om spesiale verlof te neem nie, wat ’n vrywillige keuse vir regters is. Hy win regshulp in en wil sy kant van die saak voor die Madlanga-kommissie stel.
Maya herbevestig die regbank se verbintenis tot etiese optrede en openbare diens. “Die regbank erken sy verpligting om gepaste stappe te doen waar enige regterlike beampte onwettig of oneties opgetree het, en bevestig sy toewyding om alle Suid-Afrikaners met onpartydigheid en integriteit te dien.”

Hoofregter Mandia Maya. Foto: X
Die Madlanga-kommissie ondersoek of enige verteenwoordigers van die regbank, vervolgingsgesag of polisiediens betrokke is by beweerde korrupsie.
Nadat Molefe op borgtog vrygelaat is, is hy later weer in hegtenis geneem en aangekla in verband met die moord op Oupa John Sefoka en Hector Buthelezi – onderskeidelik bekend as DJ Sumbody en DJ Vintos – in 2022. Hy is in die Alexandra-streekhof borgtog geweier.
Vroeër vandeesmaand het die hooggeregshof in Johannesburg hom egter weer borgtog toegestaan. Daardie uitspraak, gelewer deur regter Brad Wanless, is nie deur Getuie A in sy getuienis aangeraak nie.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

