South Africa
Heinz Winckler begin beweging ‘om SA om te keer’─── 10:47 Tue, 04 Nov 2025
Die sanger en pastoor Heinz Winckler wil ’n drastiese koersverandering in Suid-Afrika bewerkstellig met ’n nuwe geloofsgedrewe beweging wat hy begin het.
Die inisiatief ONE80 is geïnspireer deur die werk van die vermoorde Amerikaanse aktivis Charlie Kirk en sy organisasie Turning Point USA, wat fokus op die bevordering van Christelike en konserwatiewe waardes onder jong mense, sê Winckler. Kirk, wat noue bande met pres. Donald Trump gehad het, is op 10 September doodgeskiet terwyl hy ’n toespraak by die Utah Valley-universiteit in Orem, Utah, gelewer het.
Volgens Winckler is Suid-Afrika by ’n kruispad, en die doel met ONE80 is is om geloof, die gesin en vryheid weer sentraal te plaas in die openbare diskoers. Die beweging is reeds aktief op sosiale media, waar belangstellendes genooi word om aan te sluit via ’n WhatsApp-groep en aanlyn vorm op die webblad one80.global.

Pres. Donald Trump en Charlie Kirk. Foto: X
“Suid-Afrika is beslis by ’n keerpunt. ’n Drastiese verandering van rigting is nodig,” sê dié voormalige en eerste wenner van Idols SA. Winckler, wat tans dien as leraar by LoveKey Church, wat in Somerset-Wes gebaseer is, bevestig ONE80 is besig is om ’n nasionale leierskapspan saam te stel en ’n formele entiteit te registreer.
“Die beweging is gestig in en vir Suid-Afrika, maar ons staan oop daarvoor om verder uit te brei na Afrika en selfs internasionaal,” lui ’n inskrywing op die beweging se webblad. “Ons doel is om eendersdenkendes te verenig, takke in soveel stede en dorpe as moontlik te vestig, en sodoende jong mense te bereik en positiewe verandering teweeg te bring.”
Die tragiese dood van Kirk was volgens Winckler verdere motivering om die beweging te vestig en momentum te bou rondom ’n waardegedrewe toekoms vir Suid-Afrika.
Verwerp etikette
Winckler reageer op sosiale media op die gemengde reaksie wat die bekendstelling van die beweging ontlok het, en spreek hom uit teen die etikette wat sommige kritici nou om hom wil hang. “Vandag gaan ek waarskynlik deur sommige as ’n regse Christen-nasionalis bestempel word – dalk selfs ’n fascis – en terme soos ‘geradikaliseerde evangelis’ mag ook opduik.
“Alles omdat ek gesê het ek is geïnspireer deur die lewe en werk van Charlie Kirk, en glo ons het iets soortgelyk in Suid-Afrika nodig. Ons is immers ook op ’n keerpunt en moet ’n ONE80 (180 grade ommekeer) maak.”
Winckler beklemtoon dat hy ’n Christen is, en sê geen ideologiese etikettering van hom maak logies sin nie. “Enige redelike mens met gesonde verstand sal dit raaksien, maar dit lyk of dié wat haat op grond van ideologiese vooroordeel, met só ’n ongegronde oortuiging praat dat hul bevooroordeelde sienings duidelik sigbaar is.”
‘My denke en optrede word nie gevorm deur rasgebaseerde ideologie of vrees vir die onbekende nie’
Hy voeg by dat ’n ware Christen God liefhet met alles wat hy is, en ander liefhet met die liefde van God – ’n liefde wat gekenmerk word deur opoffering en diensbaarheid. “Wanneer God eerste is, is ’n negatiewe weergawe van nasionalisme of fascisme eenvoudig nie moontlik nie.
“En wat regse politiek betref – belaglik! My denke en optrede word nie gevorm deur rasgebaseerde ideologie of vrees vir die onbekende nie, maar deur die Woord van God wat my leer om ander lief te hê, vir my land te bid, en te glo dat die volk juig wanneer die regverdiges regeer.”
Winckler deel konserwatiewe Christelike sienings wat krities is teenoor sogenaamde “woke” ideologieë en sekere LGBTQ+-standpunte met dit waarvoor Kirk gestaan het, hoewel Winckler se benadering meer pastoraal en versoenend is. Kirk se aktivisme wat diep verweef met Amerikaanse partypolitiek, en hy was meer konfronterend en polities uitgesproke.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh

