South Africa
Mediumtermynbegroting: Godongwana sê stadig oor die klippe─── 15:35 Wed, 12 Nov 2025
’n Versigtige begrotingsraamwerk met die fokus op skuldstabilisering, die beskerming van kerndienste en ’n oplewing in ekonomiese groei. Dit is die kruks van die Mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring (MTBPS).
Enoch Godongwana, minister van finansies, se MTBPS wat hy Donderdag in die parlement ter tafel gelê het, kom te midde van voortdurende internasionale onsekerheid, trae binnelandse groei en toenemende druk op staatsfinansies. Hy het die uitdagings erken en beklemtoon “ons moet ’n balans vind tussen fiskale konsolidasie en die beskerming van die kwesbaarstes”.
Die voorspelling is staatsskuld sal teen 2028 op 75,3% van BBP stabiliseer, effens hoër as vroeër verwag. Die gekonsolideerde begrotingstekort sal na verwagting daal van 4,9% in 2025/26 tot 3,6% teen 2027/28.

Foto: Nasionale tesourie
Swakker as verwagte inkomste – veral uit korporatiewe belasting en kommoditeitspryse – het die tesourie genoop om bestedingsplanne te hersien.
Desondanks word die finansiering van maatskaplike toelaes, onderwys, gesondheid en infrastruktuur in die MTBPS geprioritiseer.
Moelike besluite wag
Godongwana herbevestig die regering se verbintenis tot die Presidensiële Werkskeppingsinisiatief en die uitrol van Nasionale Gesondheidsversekering, maar waarsku “moeilike besluite” is nodig om die staatsdiens se salarisrekening te beperk en doeltreffendheid te verbeter.
’n Kernpunt is die hervorming van staatsbeheerde ondernemings. Eskom en Transnet is onder die loep weens bedryfstekortkominge en finansiële druk.
Godongwana het planne aangekondig vir verskerpte toesig en versnelde herstrukturering, insluitend privaatsektor-deelname wat logistiek en energie-opwekking betref.
‘Ons kan nie toelaat dat dienslewering ineenstort weens swak bestuur nie’
Munisipale finansies het ook aandag gekry, en die tesourie het steun belowe om kapasiteit te help bou en aanspreeklikheid te versterk. “Ons kan nie toelaat dat dienslewering ineenstort weens swak bestuur nie,” sê Godongwana.
In die MTBPS is die belang van samewerking tussen die regering, parlement en burgerlike samelewing beklemtoon. Instellings soos die Suid-Afrikaanse reserwebank, Suid-Afrikaanse inkomstediens (SAID) en die Finansiële en fiskale kommissie is geloof vir hul rol in makro-ekonomiese stabiliteit.
Hoewel geen nuwe belastingmaatreëls aangekondig is nie, word in die verklaring te kenne gegee aanpassings kan in die Februarie 2026-begroting oorweeg word om inkomste te verhoog.

Edward Kieswetter, hoof van die SAID, is tevrede met sy span se belastinginvordering. Foto: X
Intussen verwys SAID in ’n verklaring na die R18 miljard meer as die geskatte belastinginkomste wat ingevorder is, ’n prestasie wat deur Godongwana in die MTBPS bevestig is.
Teen 30 September het SARS reeds R924,7 miljard se netto inkomste ingevorder en byna die helfte van die surplus is afkomstig van verbeterde voldoeningspogings.
Edward Kieswetter, hoof van die SAID, het die toewyding van die diens se werknemers en belastingbetalers geloof, en beklemtoon hierdie prestasie versterk die land se fiskale stabiliteit.
SAID se planne
Belangrike groei is aangeteken in korporatiewe inkomstebelasting (inkomste van R164,5 miljard), Lopende Betaalstelsel (LBS, R371 miljard), dividendebelasting, wat met 31% gestyg het tot R22,3 miljard, binnelandse BTW en die algemene brandstofheffing.
Die SAID se moderniseringsplan, Tax Administration 3.0, fokus op digitale integrasie, kunsmatige intelligensie en verbeterde risikobestuur. “Die organisasie sal ook aanhou om die informele en onwettige ekonomie te takel, insluitend smokkelary en belastingbedrog,” lui die verklaring.
Godongwana het ’n bykomende R7,5 miljard aan die SAID toegeken oor die mediumtermyn, ter ondersteuning van volhoubare fiskale groei en doeltreffende belastingadministrasie.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus cvs/mvh
