South Africa
SA produksiegroep wen wêreldprys met animasiefilm oor oerdiere─── SUSAN MARÉ 14:53 Tue, 25 Nov 2025
Stel jou voor jy is langs ’n watergat in die Karoo, sowat 255 miljoen jaar gelede. Om jou speel, brom en bulk vreemde diere wat lank voor dinosourusse geleef het.
Dié toneel, met ses spesies van hierdie oerdiere, speel hom af in die artistieke, bekroonde Suid-Afrikaanse rekenaargegenereerde animasiefilm van ses minute en 15 sekondes. Dit is te sien by Karoo Origins se fossielmuseum in Graaff-Reinet.
Fancy Horse Studios (FHS) in Kaapstad is hiervoor vereer met die prestigeryke internasionale Lanzendorf-National Geographic PaleoArt-prys – die eerste bekroning van sy soort in Suid-Afrika.

Colin Payne, medestigter en kreatiewe direkteur van Fancy Horse Studios in Kaapstad. Foto verskaf
Dit is die enigste kunstoekenning ter wêreld wat deur die Society of Vertebrate Paleontology vir paleontologiese visualisering toegeken word.
Hierdie tipe paleokuns word breedweg gedefinieer as die wetenskaplike weergawe van ’n oeroue onderwerp. Dit is een van die belangrikste middele vir die kommunikasie van ontdekkings en data onder paleontoloë.
FHS het die video-artistiek geskep deur rekenaargegenereerde animasie, bekend as CG-animasie. Dit is deur rekenaarsagteware geskep en ontwikkel, en visualiseer die oertema deur eenvoudige 2D- tot komplekse 3D-wêrelde.
Geanimeerde digitale modelle
Luidens ’n mediaverklaring van FHS is beweging geskep deur digitale modelle te gebruik wat geanimeer word deur ’n proses van “rigging”, sleutelraamwerke en bewegingstelsels. Dit is ’n digitale opvolger van die tradisionele raam-vir-raam-tegnieke, soos handgetekende of enkelraamanimasie.
Die video is ’n kombinasie van verskeie dissiplines wat ook handgeskepte beeldhouwerk insluit. FHS was verantwoordelik vir die ontwerp, ontwikkeling, modellering, draaiboek en regie.
Dié artistieke voorstelling van prehistoriese lewe in die Permiese tydperk is gegrond op wetenskaplike bewyse van fossiele en die moderne wetenskap. Hierdie uiters komplekse kunsvideo is gemaak in samewerking met Ferin Animation en die klankspan van Sound Foundry.
Die rekonstruksie van elke oerdier in FHS se video is eers na wetenskaplikes in Suid-Afrika, Engeland, Amerika en Rusland vir beoordeling gestuur. Selfs die plantkunde in die video is deur wetenskaplikes geverifieer sodat dit histories korrek kon wees.
Dianne Makings, produksiebestuurder, en Colin Payne, direkteur van FHS, het ook met wetenskaplikes soos prof. Bruce Rubidge en dr. Marc van den Brandt saamgewerk om die fossielgeskiedenis van die Karoo-supergroep in hierdie video ten toon te stel.
Die Karoo-supergroep is een van die aarde se rykste skatte en die grootste van Suid-Afrika se stratigrafiese eenhede. Dit bedek ongeveer twee derdes van die landoppervlak en sluit feitlik die hele Vrystaat, groot dele van die Oos-Kaap, Noord-Kaap, Mpumalanga en die westelike deel van KwaZulu-Natal in.

’n Stillewe-uitstalling by die fossielmuseum in Graaff-Reinet. Foto verskaf
“Ons doel was nog altyd om komplekse idees verstaanbaar en lewendig te laat voel. Ons wou hê dit moes mooi wees, maar ook wetenskaplik so akkuraat as moontlik,” sê Colin Payne.
“Om deur die Society of Vertebrate Paleontology erken te word is uiters bevestigend en ’n groot eer. Ons hoop dié erkenning sal die aandag vestig op die ongelooflike talent van Suid-Afrika se paleokunstenaars en meer geleenthede bring om hierdie tipe werk te produseer.”
Die Rubidge-versameling by die fossielmuseum in Graaff-Reinet, waar die video vertoon word, het ook ’n merkwaardige storie. ’n Tienjarige meisie (prof. Rubidge se tannie) het vir haar pa gevra wat fossiele is toe die familie piekniek gehou het.
‘Dit is die tuisdorp van alle soogdiere, insluitend ons.’
Dit het tot die ontdekking van ’n 250 miljoen jaar oue skedel gelei. So het die Rubidge-familie fossiele begin versamel – wat uiteindelik tot een van Suid-Afrika se baanbreker- paleontologiese versamelings gelei het.
Rubidge sê Graaff-Reinet, waar hy grootgeword het, is die tuiste van alle soogdiere wat in die tyd van die superkontinent Pangaea geleef het. Graaff-Reinet is in die hart van die aarde se prehistoriese geskiedenis.
“Dit is die tuisdorp van alle soogdiere, insluitend ons.”

Prof. Bruce Rubidge, internasionaal bekende paleontoloog, wat in Graaff-Reinet grootgeword het. Foto verskaf
Die wenvideo is te sien by Karoo Origins se fossielmuseum in Graaff-Reinet teen ’n minimale toegangsfooi. FHS het ook ’n stillewe-uitstalling by die sentrum wat die verbeelding van jonk en oud aangryp.
Die sentrum en sy uitstallings geniet internasionale belangstelling en word jaarliks deur mense van regoor die wêreld besoek.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

