On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Stigting kry groen lig om Curro oor te neem

───   13:29 Fri, 28 Nov 2025

Stigting kry groen lig om Curro oor te neem | News Article
Die Curro-skool in Bloemfontein. Foto: saprivateschools.co.za

Die Jannie Mouton-stigting het die groen lig van die Mededingingskommissie gekry vir ’n transaksie wat aan hom die beherende aandeel sal besorg in Curro Holdings, een van die grootste verskaffers van privaat onderwys in Suid-Afrika.

Die kommissie sê in ’n mediaverklaring hy het aanbeveel die Mededingingstribunaal moet die transaksie goedkeur, onderhewig aan sekere verpligtinge wat die partye opgelê is. Die Jannie Mouton-stigting, ’n trust wat as ’n openbare weldaadorganisasie in Suid-Afrika geregistreer is, tree op as die verkrygende entiteit. 

Die stigting se kernfokus is om geld te belê vir die voorsiening van beurse, studietoelaes, gemeenskapsontwikkeling en armoedeverligting. Hierdie filantropiese doelwitte vorm die grondslag van die organisasie se betrokkenheid by die onderwyssektor, lui die verklaring.

Jannie Mouton, wat die Jannie Mouton-stigting begin het. Hy het vroeër ’n groot rol gespeel in die groei van Curro Holdings, en is ook  die stigter van die PSG-groep en medestigter van Capitec Bank. Foto: Forbes

Curro Holdings is op die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) genoteer en word nie deur enige individu of groep beheer nie. Dit besit verskeie filiale, insluitend die Curro Funding Company en die Curro Holdings Limited Share Incentive Trust.

Saam met die filiale is die Curro-groep een van die grootste onafhanklike verskaffers van privaat onderwys in Suid-Afrika, wat onderrig bied vanaf die vroeëkinderontwikkelingsfase (gr. R) tot gr. 12.

Die groep se aanbod bestaan uit nege verskillende skoolmodelle: Curro-kleuterskole, Curro-skole, Curro- akademiese skole, die Curro Select-skole, Curro Assisted Learning, Curro DigiEd-skole, Curro Online, Meridian-skole en Curro Private College. Hierdie modelle verskil in kurrikulum, digitale en aanlyn leeropsies, asook kleuteronderrig, wat voorsiening maak vir uiteenlopende behoeftes van leerders.

‘Die kommissie glo die transaksie sal ’n betekenisvolle bydrae tot onderwys lewer’

“Ná deeglike oorweging het die kommissie tot die gevolgtrekking gekom dat die voorgestelde transaksie waarskynlik nie mededinging in enige mark wesenlik sal verminder of verhinder nie. Inteendeel, die kommissie glo die transaksie sal ’n betekenisvolle bydrae tot onderwys lewer, veral ten opsigte van histories benadeelde persone.”

Die aanbeveling aan die tribunaal is dus dat die transaksie goedgekeur word, mits die partye hul verpligtinge nakom wat daarop gemik is om toegang tot gehalteonderwys te verbreed en gemeenskapsontwikkeling te bevorder.

“Hierdie besluit beklemtoon die kommissie se rol om nie net mededinging te beskerm nie, maar ook sosiale en ekonomiese vooruitgang te ondersteun.”

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus cvs/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.