South Africa
‘Madlanga-moord’: Fluitjieblasers kap staat oor hul beskerming─── 10:52 Mon, 08 Dec 2025
Getuies voor die Madlanga-kommissie beskuldig die regering van versuim om hulle te beskerm – en weerspreek die justisieminister in haar aanspraak dat die kommissie alles moontlik doen om fluitjieblasers te beskerm.
Die kritiek kom ná die moord op Marius van der Merwe Vrydag (5/12) voor sy gesin buite sy huis in Brakpan. Van der Merwe, oudlid van die Ekurhuleni-metropolisie en eienaar van ’n private veiligheidsmaatskappy, het as Getuie D voor die kommissie getuig.
Hy het Julius Mkhwanazi, geskorste hoof van die metropolisie, voor die kommissie van betrokkenheid by misdaad beskuldig. Hy was luidens berigte ook glo vasbeslote om die bande tussen senior politici en zama-zamas te ontbloot. Die polisie probeer nog vasstel waarmee presies sy moord verbind kan word.
Kubayi hou vol Van der Merwe is getuiebeskermingsdienste aangebied, maar het dit van die hand gewys omdat hy die beskerming van sy eie maatskappy as voldoende beskou het.

Marius van der Merwe was glo vasbeslote om die bande tussen senior politici en zama-zamas te ontbloot. Foto: X
Mense na aan Van der Merwe verwerp dit egter en sê hy het vir sy lewe gevrees en sou beslis enige aanbod van beskerming aanvaar het. Daar was in September ook ’n aanslag op sy lewe en hy het dit oorweeg om alles aan die groot klok te hang om die regering te dwing om op te tree.
Luidens berigte was sy vrou, Leanne, onbewus daarvan dat hy enige aanbod verwerp het.
Ander getuies voor die kommissie voer aan hulle het gevra vir beskerming, maar hul versoek is geïgnoreer, berig The Citizen. Sommige beweer hulle is deur wetstoepassers geïntimideer om te getuig met die dreigement dat hulle betrek kan word by misdade.
“Ons is nul beskerming aangebied, en soos Vlam (Van der Merwe) voel ons ons is volgende,” het een getuie gesê. Ander sê hulle verlaat nooit hul huis sonder private veiligheidswagte nie.
Veiligheidsplan verskerp
In sy reaksie sê die kommissie hy werk saam met die polisie, weermag, justisie-amptenare en staatsveiligheid om die maatreëls te evalueer. Op ’n vergadering die naweek van die kommissie met die Natjoints operasionele sentrum in Pretoria is onderneem om sy veiligheidsplan te versterk.
Natjoints wat onlangs ook toesig gehou het oor veiligheid tydens die G20-beraad in Johannesburg, sal nou bykomende beskerming koördineer.
Fluitjieblasers hoop intussen deur met die hele sak patats vorendag te kom sal die regering gedwing word om op te tree. “As ons miskien almal opstaan vir geregtigheid, kan die staat ons nie ignoreer nie. Getuie D was ’n held; hy het met sy lewe vir die waarheid betaal,” het een gesê.
Mafiasindikate
Die VF Plus huldig Van der Merwe as ’n held en ’n “ware stryder teen misdaad” en sê hy het ’n deurslaggewende rol gespeel in die bekamping van misdaad en onwettige mynbou. “Sy passie om opheffingswerk in sy eie gemeenskap in Brakpan te doen was duidelik en sy heengaan is ’n swaar verlies vir sy familie en vir almal wat deur sy toewyding geraak is.”
Die VF Plus eis dat sy moordenaars, asook dié van ander fluitjieblasers soos Babita Deokaran, Cloete en Thomas Murray, “sonder verskoning” vasgetrek en vervolg word. “Hierdie sluipmoorde is berekende aanslae om mafiasindikate en misdadigers op ’n hoë vlak te beskerm.”
ActionSA sê in sy reaksie Gauteng verkeer in ’n georganiseerde misdaad-noodtoestand en onskuldige gemeenskappe betaal die prys vir die staat se versuim om orde te handhaaf.
Misdaadsindikate, afpersingsnetwerke en bendes het oor die jare meer gesofistikeerd geraak, terwyl die intelligensie-vermoëns van die polisie agteruitgegaan het en “politieke projekte” professionele misdaadbekamping vervang het.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus dg

