On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

South Africa

Polisiedata toon motordiefstalle is steeds hoog, maar word minder

───   06:46 Thu, 01 Jan 2026

Polisiedata toon motordiefstalle is steeds hoog, maar word minder | News Article
Die toneel waar ’n gesteelde voertuig voorgekeer is. Foto: Facebook

Misdaaddata deur die polisie toon ’n afname in voertuigverwante misdade, veral kapings, in Suid-Afrika.

Data vir die tweede kwartaal van 2025/26, toon minder voertuigverwante misdade wat deur die polisie jaar-tot-jaar verwerk is. Tussen Julie en September 2025 was daar byvoorbeeld 4 778 motorkapings, vergeleke met 5 447 gedurende dieselfde tydperk die vorige jaar.

Top Auto berig hoewel die daling ’n goeie teken is, is dit steeds te hoog: 4 778 motorkapings oor ’n tydperk van drie maande beteken steeds meer as 50 kapings per dag in Suid-Afrika.

Diefstal vanuit en vanaf voertuie het ook afgeneem. Foto: Facebook

Diefstalle van motorvoertuie en motorfietse oor dieselfde drie maande het met 10,1% afgeneem: van 8 597 die vorige jaar tot 7 726 in 2025. Diefstal vanuit of vanaf voertuie het van 20 820 die vorige jaar afgeneem tot 18 793 in 2025.

Die een uitsondering is bestuur onder die invloed van alkohol of dwelms, wat gestyg het van 16 051 die vorige jaar tot 20 442 in 2025.

Tien gewildste voertuie

Die tien voertuie wat in 2025 die meeste in Suid-Afrika gesteel is, sluit in:

  • Toyota Hilux – 8 742 diefstalle
  • VW Polo Vivo – 6 834 diefstalle
  • Ford Ranger – 5 923 diefstalle
  • Toyota Corolla – 4 756 diefstalle
  • Hyundai Grand i10 – 4 234 diefstalle
  • Isuzu D-Max – 3 892 diefstalle
  • Nissan NP200 – 3 445 diefstalle
  • BMW 3-reeks – 2 987 diefstalle
  • Renault Kwid – 2 756 diefstalle
  • Kia Picanto – 2 534 diefstalle

Die mees gesteelde motors is onopvallend, maar gewild, wat die herverkoop daarvan vergemaklik. Versekeringsdata toon kapers is meestal besig rondom middagete, van 11:00 tot 13:00 en veral op Vrydae en Saterdae.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.