On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

South Africa

Nuwejaarsbabas bring vreugde, kommer oor tienerma’s

───   08:47 Fri, 02 Jan 2026

Nuwejaarsbabas bring vreugde, kommer oor tienerma’s | News Article
Die burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit, Barbara Bartlett, met een van die Nuwejaarsbaba’s wat in Kimberley gebore is. Foto: Northern Cape Department of Health/Facebook

Terwyl honderde moeders op Nuwejaarsdag geboorte geskenk het aan nuwe bondels vreugde, spreek gesondheidsowerhede hul kommer uit oor tienermeisies so jonk as 14 en 15 wat ook babas in die wêreld gebring het.

Amptenare beklemtoon weereens die belang van seksuele opvoeding, vroeë ingryping en gemeenskapsbetrokkenheid om tienerswangerskappe te verminder. Terselfdertyd is daar ’n fokus op die ondersteuning van jong gesinne, berig The Citizen.

KwaZulu-Natal se LUR vir gesondheid, Nomagugu Simelane, het haar teleurstelling uitgespreek oor die aantal kinders wat kinders kry. “Die son is nog nie eens onder nie en ons het al 21 jong ma’s,” het sy op Nuwejaarsdag gesê. 

Die Vrystaatse LUR vir Gesondheid, Monyatso Mahlatsi, besoek Nuwejaarsbabas by die Albert Nzula-hospitaal in die Gariep-distrik. Foto: Free State Department of Health/Facebook

“Dit is baie ontstellend. Ons kan hierdie oorlog nie alleen wen nie, maar ons sal dit wen deur met die gemeenskap saam te werk.”

Die Vrystaatse LUR vir gesondheid, Monyatso Mahlatsi, het die belangrikheid beklemtoon om jong moeders, veral skoolgaande meisies, te help om terug te keer skool toe. Hy sê dit sal hulle help om hul drome en aspirasies te verwesenlik.

Tydens sy besoek aan jong ma’s by die Albert Nzula-hospitaal het Mahlatsi hulle aangemoedig om van beskikbare voorbehoedmetodes gebruik te maak om herhaalde swangerskappe te vermy. Hy het hulle ook aangespoor om goed na hul kinders om te sien. 

Tienerswangerskappe: oorsake en uitdagings

Die LUR vir gesondheid in Mpumalanga, Sasekani Manzini, het ook haar kommer uitgespreek oor die hoë voorkoms van tienerswangerskappe in die provinsie. Sy sê dit verg dringende optrede.

’n Veertienjarige meisie het geboorte gegee in die Themba-hospitaal in Kabokweni, en ’n 16-jarige meisie in die Rob Ferreira-hospitaal in Mbombela.

“Ons as die departement van gesondheid in Mpumalanga beskou tienerswangerskappe steeds as ’n maatskaplike plaag wat uitgeroei moet word. In samewerking met susterdepartemente en ander rolspelers doen ons alles in ons vermoë om die uitdaging hok te slaan.”

Die Vrystaatse premier MaQueen Letsoha-Mathae, besoek Nuwejaarsbabas by die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein. Foto: Free State Provincial Government//Facebook

Manzini sê oorsake van tienerswangerskappe sluit onder meer in alkoholgebruik deur jongmense, statutêre verkragting en die uitbuiting van jong meisies deur ouer mans.

In Gauteng sê die LUR vir gesondheid en welstand, Nomantu Nkomo-Ralehoko, dat die samelewing en geloofsleiers saam moet werk om die probleem van tienerswangerskappe aan te spreek.

“Ons gaan in die komende weke skole regoor die provinsie besoek as deel van ’n terug-skool-toe-veldtog om leerders van seksuele opvoeding te voorsien en ander verwante kwessies wat hulle raak, aan te spreek.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mvh 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.