On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

South Africa

GKSA-sinode maak rug styf oor vroue in die amp

───   11:46 Fri, 09 Jan 2026

GKSA-sinode maak rug styf oor vroue in die amp | News Article
Vroue byeen op ’n sustersaamtrek in Bloemfontein verlede jaar. Foto: Hannes Noëth

Gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) wat ’n sinodebesluit in die wind slaan dat vroue nie in regerende ampte (ouderlinge en predikante) mag dien nie, kan nou daadwerklike optrede teen hulle verwag.

Die algemene sinode van die GKSA het vandeesweek op sy driejaarlikse vergadering in Potchefstroom besluit as gemeentes nie die sinodebesluite oor vroue in die amp (Vida) gehoorsaam nie, kom dit neer op “losmaking van die kerkverband”. 

Dr. Gerard Meijer van die Gereformeerde Kerk Oos-Moot in Pretoria, die moderamenvoorsitter, het dié besluit Donderdag (8/1) in ’n verklaring aan gemeentes bekendgemaak.

Die kerke worstel sedert 1988 met die vraagstuk Vida, meer spesifiek dié van ouderling en “bedienaar van die Woord”, sê Meijer. 

Nadat die sinode van 2009 besluit het vroue mag nie in dié ampte dien nie, het sommige gemeentes steeds vroue as ouderlinge bevestig. Dit het groot spanning in die kerkverband meegebring.

Dit het daarop uitgeloop dat die sinode van 2023 aan “studiedeputate (groepe afgevaardigdes) die opdrag gegee het om die kerke te lei oor wat gedoen behoort te word” teen gemeentes wat oortree. Die sinode het nou besluit om ’n oproep te rig aan gemeentes “om hulle te bekeer en in gehoorsaamheid aan Christus sinodebesluite te handhaaf”. 

Die gemeentes word ’n jaar gegun om besluite om vroue as ouderlinge te bevestig, terug te trek en reg te stel “deur vroue wat wel in die amp bevestig is, losmaking te gee”. Klassisse (groepe gemeentes, ook ringe genoem) moet dié gemeentes pastoraal bystaan. 

Gesellige saamkuier tydens ’n sustersaamtrek op Vanderbijlpark in 2023. Foto: Facebook/Gereformeerde Kerk Trinitas

Indien gemeentes nie hieraan voldoen nie, word dié optrede beskou as ongehoorsaamheid aan Christus en “haarself van die GKSA as een kerklike gemeenskap losgemaak het”.

Dié besluit spruit uit ’n diepe besef van “ons gesamentlike roeping voor die Here. Christus regeer sy kerk deur sy Woord en Gees en Hy roep ons tot gehoorsaamheid, ook wanneer dit vir ons moeilik is of teen die tydsgees indruis.”

Die sinode doen daarom ’n “ernstige, broederlike en liefdevolle beroep op alle kerkrade en lidmate om hulself voor die Here te ondersoek sodat ons in ootmoed na die Skrif luister en die besluite van die kerke eerbiedig”. 

Hand van ekumeniese eenheid

Die sinode het ook besluit om die “hand van volle ekumeniese eenheid” uit te steek na drie kerkverbande. Een is die Gereformeerde Kerken (GK) in Nederland, ’n nuwe kerkverband gestig in Maart 2024 uit ’n samesmelting van De Gereformeerde Kerken (herstelt) en die Gereformeerde Kerken Nederland.

Die GK, met 30 gemeentes en 4 000 lidmate, “staan onwrikbaar vas op die Skrif en belydenis”, net soos die GKSA, sê Meijer.

Verder wil die GKSA ekumeniese bande sluit met die Igreja Presbitériana de Angola (IPB Angola) en die Reformed Church in the United States (RCUS).

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.