South Africa
Kwotas by hekke ingestel ná nog vloedskade in Krugerwildtuin─── 10:40 Mon, 19 Jan 2026
Mense wat die Krugerwildtuin wil besoek, moet in ag neem die bestuur het kwotas ingestel by drie hekke in die suide wat nog oop is om toegang te beperk ná nog reënskade aan paaie en infrastruktuur.
’n Hekkwotastelsel is met onmiddellike ingang ingestel ter wille van besoekers se veiligheid en doeltreffende verkeersbestuur ná swaar reën Sondagnag (18/1) wat verdere skade veroorsaak het, sê JP Louw, Sanparke-woordvoerder.
Die hekke wat geraak word, is Malelane, Numbi en Paul Kruger. Alle oop safarivoertuie word deur dié kwotas geraak. Krokodilbrug is steeds gesluit.
Die roete van Skukuza na die Phabeni-hek is tans gesluit weens die oorstromings, nadat vloedwater toegang langs die S1-pad (na dié hek) afgesny het. Die Phabeni-hek is dus in hierdie stadium nie bereikbaar via Skukuza nie.

Die laagwaterbrug op die H10 by Onder-Sabie is steeds onder water. Foto: Sanparke
Sanparke het verlede week aangekondig dagbesoekers word weer van vandag af in die park toegelaat nadat die park weens stormskade gesluit moes word. Talle paaie was en is steeds onbegaanbaar.
“Gaste word versoek om te verseker dat hul voertuie genoeg brandstof het, aangesien vulstasies in die kampe moontlik deur die aanhoudende reën geraak kan word.”
Besoekers moet ook bedag wees daarop dat winkels in die park se voorraad laag is weens die toegangsprobleme. Mense word aangemoedig om alles saam te bring wat hulle nodig het.
“Noodsaaklike afleweringsvoertuie, reisigers na die lughawe (met ’n geldige vlugkaartjie) en amptenare sal slegs deur die Paul Kruger-hek toegelaat word.”
Sanparke het verlede week aangekondig dagbesoekers word weer van vandag af in die park toegelaat nadat die park weens stormskade gesluit moes word. Talle paaie was en is steeds onbegaanbaar.
Die Orpen-hek bly weens veiligheidsgevare gesluit tot verdere kennisgewing. “Die noorde van die park is steeds ontoeganklik en gevolglik is al die hekke in die noorde gesluit.” Verskeie paaie en brûe het verspoel.

’n Leeu lê rustig in die Letaba-omgewing. Dié kamp was onder water ná die oorstromings. Foto: Sanparke
Sanparke hou die weerstoestande noukeurig dop en monitor die status van paaie en infrastruktuur. Die publiek sal op die hoogte van sake gehou word, sê Louw.
Intussen berig Newzroom Afrika pres. Cyril Ramaphosa besoek Maandag Mpumalanga, waar die swaar reën minstens 20 lewens geëis het.
Die regering het ’n nasionale ramp verklaar ná die wydverspreide skade weens oorstromings en gure weer in Noordwes, die Oos-Kaap, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

