South Africa
Leesvermoë van 7-jarige boekwurm verstom─── SUSAN MARÉ 09:39 Thu, 05 Mar 2026
’n Seun van Centurion het in die eerste weke van gr. 1 al meer as honderd boeke gelees.
Die Laerskool Hennopspark het op die skool se Facebook-blad ’n video geplaas waarin die Afrikaanssprekende Roelof Prinsloo (toe 6), vlot uit ’n Engelse boek lees. Roelof is nou in gr. 2 en dié sewejarige se ma, Trudie Prinsloo, moet bontstaan om geskikte leesboeke vir haar ywerige klein leser te kry. Die video was toe hy vroeg verlede jaar in gr. 1 was.
Hy het in daardie stadium al 98 “boeke” gelees. Intussen het dié getal tot verstommende hoogtes toegeneem. Roelof se leesprestasie is des te meer besonders, omdat hy Engels vlot lees en begryp.
“Ten opsigte van die 98 boeke: Die ander grondslagfasekinders lees korter boekies soos Tippie. As ’n kind dan hoofstukboeke lees (soos Trompie) tel elke hoofstuk as ’n boek. So, die 98 boeke was eintlik 98 hoofstukke.
“Hy het in 2025 altesaam 1 560 hoofstukke gelees. Ek het ook rekord gehou van die boeke, met ander woorde, as ’n Trompie-boek slegs as een boek tel. Op dié lys het hy 206 volle boeke in 2025 gelees.
Vanjaar het Roelof reeds meer as 220 hoofstukke agter die blad, vertel sy ma. “Ek is nie seker hoeveel boeke dit is nie en sal op sy boeklys moet kyk. Sommige boeke is dik en het 45 hoofstukke; ander het agt.”
Omdat hy so mooi lees, vertel sy ma, is sy skoolwerk en huiswerk nooit vir hom ’n probleem nie. ’n Groot deel van die werk in gr. 1 en 2 is uiteraard om te leer lees, wat hy reeds goed kan doen. Die res van die huiswerk doen hy ook sonder hulp omdat hy die opdragte met insig kan lees.

Roelof Prinsloo het vanjaar al meer as 220 hoofstukke gelees. Foto verskaf
Trudie sê voorts Roelof het danksy al die stories wat hy lees ’n kleurryke verbeelding en ’n omvangryke algemene kennis. Hy het nie ’n probleem om homself besig te hou nie – al wat hy nodig het, is ’n boek.
“Die uitdaging is om boeke te kry wat by sy ouderdom pas,” sê sy ma. “Die hoofstukboeke is gewoonlik vir kinders geskryf wat ’n bietjie ouer is en Roelof raak maklik bang of ontsteld – sy hartjie is maar net sewe jaar oud.
“Hy lees so vinnig; ek kan nie eers gou al die boeke lees voordat hy dit lees nie. Ek vra nou maar vir ChatGPT of hy dink die boeke is gepas vir iemand van Roelof se ouderdom.”
'Hy het nie ’n probleem om homself besig te hou nie – al wat hy nodig het, is ’n boek.'
Die voordele van lesende kinders word wêreldwyd op opvoedkundige webtuistes besing. Lees lê aan die kern van alle akademiese leer, en hoe sterker ’n kind se leesvaardighede is, hoe beter kan hulle ander vakke soos wiskunde bemeester.
Kinders se leesgewoontes weerspieël ten sterkste ook die ingesteldheid van hul ouers en die waarde wat hulle aan lees heg.
Maureen van Helden, taaladviseur van die Virtuele Instituut vir Afrikaans, beaam die belangrikheid van leesvaardigheid en begrip by kinders. Nes Trudie maak sy seker haar kroos word omring met boeke.

Roelof lees vir sy sussie, Niene, 'n storie. Foto verskaf
Volgens die statistiek van die Progress in International Reading Literacy Study 2026 kan 81% van gr. 4’s in Suid-Afrika nie met begrip lees nie, sê Van Helden. “Dis skrikwekkend, maar dit mag nie net nog ’n statistiek wees wat by ons verby gaan nie.
“Ons kan nie meer wegkyk nie, want lees is nie ’n luukse nie. Dit is die fondament van alles. Dit is selfvertroue. Dit is geleenthede. Dit is ’n kind se toekoms. Wanneer ’n kind sukkel om te lees voel elke vak soos ’n berg wat geklim moet word.
“Maar die oomblik wanneer daar die liggie aangaan en hulle verstaan wat daar staan, dan gaan daar ’n hele wêreld oop – nie net op skool nie, maar in hul hart en in hul verbeelding ook," sê sy.

Niene, John, Roelof en hul pa, Michael Prinsloo, lees saam in ‘n boek. Foto verskaf
As ouer het Van Helden geleer: Daar nie ’n vaste resep om ’n leser groot te maak nie. In haar huis lyk lees vir almal anders. “My oudste het sy voete gevind met Asterix & Obelix en teen tien jaar het hy reeds Lord of the rings deurgelees.
“My dogter verslind Harry Potter, maar sy sal vinnig Anna Green Gables ook nader trek. En die jongste twee: Vir hulle gaan dit oor pret, grafiese romans soos The bad guys, The 13-storey treehouse en Diary of a Wimpy kid.”
Die kinders lees verskillende boeke, maar hulle léés, sê sy. “Kinders lees wanneer hulle iets van hulself in ’n boek herken. Of dit nou humor, avontuur of ’n karakter is wat soos hulle voel. Lees moet begin by belangstelling nie by dwang nie.”

Maureen van Helden. Foto verskaf
Dit hoef nie ’n fortuin te kos om kinders aan die lees te kry nie. “Biblioteke is vol gratis boeke, vol moontlikhede. Die meeste van hierdie gewilde titels is boonop ook in Afrikaans vertaal en beskikbaar. Jy hoef nie duur aankope te doen nie. Jy moet net begin.”
Sy raai ouers aan om net tien minute per dag saam met hul kinders te lees. “Vind ’n boek wat hulle opgewonde maak. Leen dit by die biblioteek as jy moet, en gesels sommer net oor die storie. Dit bou nie net leesvermoë nie; dit bou ’n verhouding.”
Suid-Afrika se leeskrisis kan nie met beleid die hoof gebied word nie. “Dit begin vanaand. Dit begin in jou huis: op jou bank of op die bed. Kies ’n boek. Sit saam en lees. Daardie tien minute kan vir jou kind ’n leeftyd se moontlikhede oopmaak,” sê Van Helden.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

