South Africa
Beloning ná Gauteng-vrou spoorloos verdwyn─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:42 Thu, 09 Apr 2026
’n Boksburgse gesin bied ’n R10 000-beloning aan vir die opsporing van ’n geliefde, wat reeds langer as ’n maand gelede as vermis aangemeld is.
Volgens haar familie het Hermina Christina (Ina) Tellis (57) se man, Jacques Tellis, haar laas op 10 Maart omstreeks 20:00 tuis in Witfield, Boksburg, gesien. Hy het later ingekruip en omstreeks 23:00 besef sy is weg.
“Ina het vir niemand gesê dat sy beplan om êrens heen te gaan nie. Sy het ook niks met haar saamgeneem nie,” sê Tellis. Haar selfoon is in die huis gekry, steeds aangeskakel, maar met geen aktiwiteit op sosiale media soos WhatsApp nie.
Die familie is bekommerd oor huurders op hul eiendom wat hulle as “vyandig en aggressief” beskryf. Ina het ’n beskermingsbevel teen hulle verkry ná beweerde dreigemente en intimidasie.

Sy het meer as een keer gesê sy vrees vir haar veiligheid, vertel haar man. As sy iets sou oorkom, moes die huurders ondersoek word.
Die huurders het na bewering kort ná middernag in die nag van haar verdwyning uitgegaan en omstreeks 00:30 teruggekeer, sonder enige verduideliking oor waar hulle was.
“Hulle het weer omstreeks 05:30 vertrek en eers ná 17:00 teruggekeer, weer sonder verduideliking,” vertel Ina se man.

Die familie meen die huurders het moontlik ’n motief gehad, aangesien hulle op 4 Mei in die hof sou verskyn het na aanleiding van voortdurende geskille.
“Die huurders het voorheen gevra dat die saak buite die hof geskik word, maar Ina het daarop aangedring dat dit voortgaan,” sê Tellis.
Ina is 1,6 m lank en skraal, weeg sowat 61 kg en het blonde hare en blou oë. Sy het ’n donker broek en top aangehad en het geen tatoeëermerke of sigbare letsels nie. Sy het in die doeanekantoor in Jet Park gewerk. Ina het medikasie gebruik vir hoë bloeddruk.
Die familie sê hulle is verpletter en sukkel om haar verdwyning te hanteer. “Sy is ’n liefdevolle moeder, vrou, suster, dogter en vriendin. Ons het haar nodig, ons mis haar, en ons is innig lief vir haar.”
Enigiemand met inligting word versoek om Jacques Tellis te bel by 081 543 7931.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

