On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

South Africa

Dieremishandeling in St. Lucia skok tydens bewustheidsmaand

───   ZENANDE MPAME 13:04 Wed, 15 Apr 2026

Dieremishandeling in St. Lucia skok tydens bewustheidsmaand | News Article
Dieremishandeling in St. Lucia skok tydens bewustheidsmaand. Foto: Verskaf

Elke April span dierewelsynsorganisasies saam om een van die dringendste probleme in talle gemeenskappe landwyd in die soeklig te plaas: dieremishandeling.

Inspekteurs, veeartse en vrywilligers het daagliks te kampe met die verwoestende uitwerking van verwaarlosing, mishandeling en verlating. Vandeesmaand word die publiek tydens die maand vir bewustheid oor wreedheid teenoor diere opnuut aangespoor om deel van die oplossing te wees deur ingelig en proaktief te wees.

In KwaZulu-Natal herstel ’n reun nadat sy eienaar hom na bewering in die St. Lucia-strandmeer probeer verdrink het deur gewigte aan sy nek vas te maak en hom by ’n brug af te gooi.

“Die man word in die gesig gestaar deur aanklagte wat die NDBV aanhangig gemaak het,” sê Jacques Peacock, die nasionale vereniging se kommunikasiebestuurder, “nadat hy sy hond om die lewe probeer bring het.”


’n Inwoner het die mishandelde brak, wat intussen Siyabonga gedoop is, ingeneem en gereël dat ’n veearts hom ondersoek, voeg hy by.

“Nadere ondersoek het beserings aan die lig gebring wat dui op ’n hou teen die kop, asook bewyse van verwaarlosing, waaronder ’n ernstige parasietebesmetting, wanvoeding en gedrag wat strook met vorige trauma.”

Op besoek aan die verdagte, Muzikayise Mhlongo, se eiendom het hy na bewering erken dat hy vir Siyabonga van die brug afgegooi het, blykbaar nadat hy van sy hoenders doodgebyt het. “Hy het geen berou oor sy optrede getoon nie,” sê Peacock. Mhlongo het reeds in die hof verskyn.


’n Ooggetuie by die Siyabonga-toeristesentrum het glo op die betrokke dag ’n man met ’n bruin hond aan ’n blou-en-wit leiband gewaar wat die hond geskop en oor die brug in die strandmeer gegooi het.

’n Bootoperateur van die Siyabonga Jetty het op die woef afgekom waar hy in die water spartel. Nadat sy hom na veiligheid gebring het, het sy die swaar gewig om sy nek verwyder.

“ ’n Veearts het Siyabonga behandel, hom ingeënt en gesteriliseer,” sê Peacock. “Hy is nou in ’n plek van veiligheid waar ’n inspekteur van die NDBV hom ondersoek en bevind het sy toestand verbeter.”

Tekens van dieremishandeling:

  • diere wat tekens toon van uiterste vrees of sielkundige nood;
  • ’n dier wat ernstig ondergewig of ondervoed lyk;
  • diere wat in vuil, beknopte of onveilige toestande aangehou word;
  • wonde, beserings of tekens van herhaalde trauma; en
  • oormatige vasmaak met kettings of toue sonder toegang tot kos of water.

OFM News/Zenande Mpame sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.