South Africa
Weer tyd om natuurstryders te benoem vir Koedoe-pryse─── 14:01 Tue, 25 Aug 2026
Dit is weer tyd om mense en instansies te benoem vir ’n gesogte prys wat erkenning gee vir uitnemende bydraes tot bewaring in die land.
Sanparke nooi Suid-Afrikaners uit om uitsonderlike individue, gemeenskappe, organisasies en vennote te benoem vir die 21ste jaarlikse Koedoe-pryse. Dit is daarop gemik om die passie, toewyding en optrede van individue, gemeenskappe en instellings te belig wat help om die land se natuurlike erfenis te bestuur en volhoubaar te bewaar.
Die program het twee vlakke:
• Die Uitvoerendehoof-pryse erken uitmuntende prestasie deur Sanparke-personeel in 14 kategorieë wat die volle spektrum van die organisasie se werk dek.
• Die Koedoe-pryse is toegespits op eksterne belanghebbendes en erken bydraes van individue, gemeenskappe, organisasies, joernaliste, navorsers, ondernemings en vennote wat ’n betekenisvolle rol speel in bewaring.

Navorsers, soos dié span in die Kgalagadi-oorgrenspark, kan benoem word in die kategorie Professionele belanghebbendes. Foto verskaf
JP Louw, woordvoerder, sê vir langer as twee dekades het die pryse die belangrikheid van vennootskappe in bewaring beklemtoon en gewys die beskerming van die land se natuurlike en kulturele erfenis is ’n nasionale spanpoging.
“Dwarsoor die land verrig gewone mense daagliks buitengewone werk vir bewaring. Hulle herstel ekostelsels, inspireer ander tot omgewingsbewustheid, bevorder wetenskaplike kennis, bemagtig gemeenskappe, ondersteun volhoubare toerisme, vertel belangrike bewaringsverhale en ontwikkel innoverende oplossings vir uitdagings.
“Baie doen dit sonder erkenning. Die Koedoe-pryse bestaan om hierdie kampvegters te eer en hul bydraes te vier.”

Leeus in die Kgalagadi. Foto: Alison Govaerts
Benoemings word ingewag vir die volgende kategorieë, wat die uiteenlopende maniere weerspieël waarop mense en organisasies ’n verskil maak:
- Korporatief – Besighede wat uitstaande toewyding aan bewaring, volhoubaarheid en ondersteuning vir Sanparke toon.
- Nie-regeringsorganisasies – Programme, navorsing of gemeenskapswerk wat betekenisvolle bydraes tot biodiversiteit lewer.
- Media – Joernaliste, redakteurs, fotograwe en inhoudskeppers wat die publiek inlig en inspireer oor bewaring en ekotoerisme.
- Gemeenskapsbydrae – Individue of groepe wie se werk volhoubare lewensbestaan en omgewingsbewustheid bevorder.
- Omgewingsopvoeding – Onderwysers en instellings wat die volgende geslag bewaringsleiers inspireer.
- Individuele bydrae – Persone wie se leierskap en toewyding ’n beduidende impak op bewaring het.
- Professionele belanghebbendes – Navorsers en praktisyns wat kennis en beleid bevorder.
- Geassosieerde vennote – Instellings wat uitmuntende samewerking met Sanparke toon.
- Vroue in bewaring – Vroue wie se leierskap die toekoms van bewaring vorm.
- Jeug in bewaring – Jong mense wie se passie en innovasie ’n verskil maak.
- Innovasie – Nuwe idees en tegnologieë wat bewaringsuitkomste verbeter.
Sanparke vra die publiek om byvoorbeeld te dink aan joernaliste wat bewaringskwessies in die kollig plaas, gemeenskapslede wat omgewingsbewustheid bevorder, onderwysers wat jong leerders inspireer, navorsers wat kennis uitbrei, of ondernemings wat volhoubaarheid bevorder.
“Die Koedoe-pryse bied ’n geleentheid om hul werk te erken en hul stories met die nasie te deel.”
Benoemings sluit op 19 September en die wenners word in November 2026 vereer op ’n seremonie in Gauteng.
Die vorms en meer inligting is beskikbaar op Sanparke se webblad.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

