On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Ashmund
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Wêreld-hondedag: Verkies Suid-Afrikaners hulle of katte?

───   10:55 Thu, 27 Aug 2026

Wêreld-hondedag: Verkies Suid-Afrikaners hulle of katte?  | News Article
Wetenskaplikes sê die rol van honde om mense te troos moenie onderskat word nie. Foto verskaf

Wêreld-hondedag vandeesweek het die debat opnuut laat opvlam: Is hulle of katte die beste troeteldiere?

Dié dag word elke jaar gevier op 26 Augustus om die kollig te plaas op die “mens se beste vriend”. Dit gedenk honde van alle rasse en agtergronde en erken die belangrike rolle van diens-, polisie-, militêre en reddingshonde.

Wetenskaplikes sê die rol van honde moenie onderskat word om mense te troos nie. En duidelik is Suid-Afrikaners deeglik bewus van al die voordele wat dit inhou om dié diere te besit.

Statistieke SA het met die oog op dié viering syfers bekend gemaak wat ’n prentjie skets oor eienaarskap in die land, gegrond op die Algemene Huishoudelike Opname van verlede jaar.

Altesaam 21,0% van huishoudings in SA het honde, teenoor 6,4% wat katte het. Foto verskaf

Huishoudings in die land huisves sowat 7,5 miljoen honde en 2 miljoen katte. En meer as die helfte van honde is die enigste van dié spesie in die huis. 

Die Noord-Kaap loop voor met 34,7% van huishoudings wat honde het, gevolg deur die Wes-Kaap (34,1%) en Oos-Kaap (31,8%). Limpopo, Gauteng en Mpumalanga het die minste, tussen 14 en 16%. 

Wanneer egter na die gemiddelde aantal troeteldiere per huishouding gekyk word, is Gauteng en die Noord-Kaap saam voor met 1,8 katte per huishouding, terwyl KwaZulu-Natal lei met 2 honde per huishouding.

Wêreld-hondedag word elke jaar gevier op 26 Augustus om die kollig te plaas op die “mens se beste vriend”. Foto verskaf

Byna ‘n kwart (23,9%) van plattelandse huishoudings hou honde aan, teenoor net minder as ’n vyfde van stedelike gesinne. Die neiging wat kat-eienaarskap betref, is soortgelyk.

Gesinne met kinders is meer geneig om honde te hê (tot 25,5%).  Honde-eienaarskap neem egter ook toe met ouderdom: van 11% by jong huishoudings tot 31,2% by diegene ouer as 75. 

Welgestelde huishoudings (LSM 8–10) het die hoogste syfers: 41,8% besit honde en 12,7% katte. 

Die rykste kwintiel is meer as dubbel so geneig om honde te hê as die armste.

Die vermaakwaarde van sommige honderasse kan ook nie onderskat word nie. Foto verskaf

Britse wetenskaplikes het ’n unieke eksperiment uitgevoer om te bepaal of honde werklik empatie toon. Die toets het behels dat ’n vreemdeling oortuigend moes huil in ’n onbekende gesin se sitkamer, terwyl die hond toekyk.

Jennifer Mayer van Goldsmiths, Universiteit van Londen, het dié rol in 18 huishoudings vertolk. Sy en sielkundige Deborah Custance wou vasstel of honde hul eienaars troos omdat hulle eintlik vertroosting soek, en of hulle werklik reageer op menslike nood.

Die metode is geleen uit ontwikkelingsielkunde, waar volwassenes huil om te toets of kleuters empatie toon. In die honde-eksperiment het die vreemdeling en die eienaar beurtelings normaal gepraat, vreemd gefluit en gehuil. Die fluitery het min reaksie ontlok, maar die trane het die honde deur die kamer laat beweeg.

Onafhanklike waarnemers het die honde se liggaamstaal beoordeel en bevind dat hul benadering sag en onderdanig was, met die ore plat en die kop omlaag, die houding wat honde gebruik wanneer iemand kwesbaar is. Belangrik: die honde het na die huilende vreemdeling gegaan, nie na hul eienaar nie.

So, wanneer jou vierpotige vriend se kop op ’n slegte dag op jou skoot beland, is dit nie omdat die hond gerusstelling soek nie. Iets in die klank van ’n mens wat uitmekaarval, raak iets in dié diere aan, en die hond sal oor ‘n afstand beweeg om troos te kom bied. 

Agttien sitkamers in Londen het bevestig dat dit dieselfde sou doen vir ’n huilende vreemdeling. En soms is daardie huilende vreemdeling niemand anders nie as jy.

OFM Nuus sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.