Central SA
Nou kan Steyn, Kusche hul miljoene gaan haal─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:11 Thu, 27 Aug 2026
Die twee atlete wat vanjaar die Comrades-marathon gewen het, het nie net geskiedenis gemaak met rekordvertonings nie, hulle steek ook rekordbedrae in hul sak.
Miljoene rande wag op Gerda Steyn (36) en George Kusche (27), nadat albei die vereiste toetse vir verbode middels geslaag het. Die twee kampioene het ná hul indrukwekkende oorwinnings nou hul deel van die rekordbedrag van meer as R8 miljoen in prysgeld verdien.
Steyn sal ’n allemintige R2 388 192 ontvang, terwyl Kusche met R2,322 miljoen beloon word. Die twee kampioene het hul plek in die geskiedenis van die Ultimate Human Race verseker met vertonings wat nie net oorwinnings nie maar ook nuwe rekords opgelewer het.
Steyn, van Bothaville in die Vrystaat, het die 89 km-opwedloop van Durban na Pietermaritzburg in 5:44:53 voltooi. Daarmee het sy haar vyfde Comrades-titel ingeoes en haar vierde agtereenvolgende oorwinning behaal.
Sy het ook haar eie rekord vir die opwedloop verbeter. Steyn se reuse-prysgeld is egter nie slegs vir haar oorwinning nie. Sy het ook punte en pryse ingesamel omdat sy die eerste Suid-Afrikaner oor die eindstreep was, die beste gemiddelde pas per kilometer in die opwedloop verbeter het, eerste deur die knelpunt by Camperdown was en deel was van Hollywood Athletics Club se elite-vrouespan wat die spanprys gewen het.
Sedert haar deurbraakoorwinning in 2019 het Steyn nog nie ’n Comrades verloor wanneer sy die wedloop aangepak het nie. Die wedloop is wel in 2020 en 2021 weens die Covid-19-pandemie gekanselleer, terwyl sy in 2022 besluit het om nie die ultramarathonafstand te hardloop nie en eerder op korter afstande te fokus.
Haar prestasies is ook nie tot die Comrades beperk nie. Sy het vroeër vanjaar haar sewende agtereenvolgende Two Oceans Marathon-titel gewen, ’n rekordgetal oorwinnings vir ’n vrou in dié wedloop.
Intussen het Kusche homself ook by die Comrades gevestig as ’n naam om dop te hou. Die jong atleet het die vorige rekord vir die opwedloop, wat deur die Rus Leonid Shvetsov in 5:24:49 opgestel is, met byna nege minute verbeter. Kusche het die afstand in 5:15:56 voltooi.
Sy gemiddelde pas van sowat 3:41 per kilometer was eweneens vinniger as Vladimir Kotov se vorige rekord van 3:43 per kilometer, wat 26 jaar lank gestaan het. Dit was ook sy tweede Comrades. Hy was verlede jaar die vinnigste nuweling en het die wedloop in die 12de plek voltooi.

Gerda Steyn in Switserland. Foto: Facebook
Die rekordbedrae en geskiedkundige vertonings van vanjaar se wedloop bou die opwinding verder op vir wat volgende jaar wag. Die 100ste Comrades Marathon vind op 13 Junie plaas en sal die afwedloop wees, met die sowat 91 km-roete wat van Pietermaritzburg na Durban strek. ’n Rekordgetal van tot 28 000 deelnemers sal die geskiedkundige wedloop kan aanpak.
Dié aankondiging is Woensdagoggend op die bekendstelling van die wedloop op Kings Park in Durban gedoen. Die eeufees-uitgawe sal onder die tema The Greatest Story Ever Run plaasvind – ’n verwysing na die duisende persoonlike verhale wat elke jaar saam met die hardlopers oor die Comrades-roete beweeg.
Die wedloop sal ook vir die eerste keer by die grasvelde buite Kings Park in Durban eindig. Nog groter aansporing wag vir die voorste atlete: Die eerste man en eerste vrou oor die eindstreep sal elk met ’n R1 miljoen-wentjek beloon word.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

