South Africa
Hoër brandstofkoste kan plantbesluite en voedselsekerheid raak –TLU SA─── 16:20 Fri, 09 Oct 2026
Saaiboere gaan die plantseisoen met aansienlik hoër brandstofpryse aandurf, terwyl onsekerheid oor weerstoestande, opbrengste en kommoditeitspryse hul finansiële risiko verder sal verhoog.
TLU SA waarsku die brandstofprysverhogings van Woensdag (7/10) kom op ’n kritieke tydstip vir die landbou. Die prys van 93-oktaanpetrol het met R3,12/L gestyg en 95-oktaan met R3,33/L, terwyl diesel tussen R2,84 en R3,24/L duurder geword het.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder, sê produsente moet juis nou groot bedrae bestee om hul volgende oes te vestig. Dié uitgawes kan nie eenvoudig uitgestel word totdat brandstofpryse weer daal nie, terwyl boere nog nie weet wat hul opbrengs of uiteindelike produkprys gaan wees nie.

Bennie van Zyl. Foto: TLU SA
Die uitwerking van duurder diesel strek veel verder as trekkers en ander landboumasjinerie. Saad, kunsmis, chemikalieë en ander insette moet na plase vervoer word, waarna verdere brandstof gebruik word vir grondvoorbereiding, plantwerk, stroopwerk en die vervoer van produkte na silo’s, markte en verwerkingsaanlegte.
’n Verhoging van sowat R3/L beteken ’n produsent wat 10 000 liter diesel gebruik, moet reeds ongeveer R30 000 meer betaal. Dit sluit nog nie die indirekte kostestygings in wat deur duurder vervoer en ander dienste na die plaas en deur die voedselwaardeketting kan deurwerk nie.

Boere gaan sukkel om duurder brandstof te kan bekostig. Foto: iStock
Hy waarsku boere kan nie noodwendig dié ekstra koste in hul produkpryse verhaal nie omdat hulle grootliks prysnemers is. Selfs ’n goeie oes waarborg daarom nie winsgewendheid wanneer insetkoste styg, kommoditeitspryse wissel en moontlike El Niño-toestande verdere onsekerheid oor die produksieseisoen bring nie.
TLU SA meen produsente sal hul finansiële blootstelling nou deeglik moet beoordeel. Gesamentlike insetaankope, gekonsolideerde aflewerings en die hersiening van vervoerooreenkomste kan sekere uitgawes beperk, maar die maatreëls kan nie die volle uitwerking van die huidige brandstofskok uitskakel nie.
Plaaslike faktore vererger ook die uitwerking van internasionale oliepryse. Swak plattelandse paaie, beperkte spoorvervoer en logistieke ondoeltreffendheid verhoog die koste van landbou-insette en die vervoer van produkte.
Die groter risiko is dat produsente uiteindelik minder kan plant, produksie kan afskaal of investering kan uitstel indien die ekonomiese risiko groter raak as die moontlike opbrengs. Só ’n besluit sal ook insetverskaffers, plattelandse ondernemings, werkgeleenthede en die breër voedselwaardeketting raak.
Van Zyl sê voedselsekerheid kan daarom nie net gemeet word aan hoeveel voedsel beskikbaar is nie. Die volhoubaarheid van produksie hang ook daarvan af dat dit ekonomies sin maak vir boere om jaar ná jaar aan te hou produseer.
OFM Agri dg
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

