South Africa
Man van Bethlehem is Afrika-finalis in skryfkompetisie─── SUSAN MARÉ 15:12 Mon, 09 Nov 2026
’n Onderwyser van Bethlehem is as finalis aangewys in die African Authors Recognition Awards 2026 (AARA), waarvan die wenners einde vandeesmaand aangewys word.
Henry du Plessis (27), ’n onderwyser aan die Maluti-Hooglandskool, het sy boek, My lewe in ’n hartklop, vanjaar op Bethlehem bekend gestel. In hierdie outobiografiese boek vertel hy van sy siektestryd ná twee nieroorplantings. Dit is nou in sy tweede drukoplaag en ook in Engels beskikbaar.
AARA is ’n vastelandwye literêre inisiatief wat toegewyd is aan die erkenning, viering en bevordering van Afrika-skrywers. Dit is is in 2025 deur Victoria Haihambo van Namibië en Marcia Chavunduka van Zimbabwe gestig.
Die doel van AARA is om uitstaande talent oor die vasteland heen en die diaspora te ondersteun en om die passie vir storievertelling lewendig te hou.

Henry du Plessis se boek ‘My lewe in ’n hartklop’. Foto verskaf
Die organisasie het vinnig gegroei en vanjaar meer as 160 aansoeke van skrywers ontvang. Die wenners word op 28 November in Windhoek aangekondig.
In sy boek vertel Henry sy uitdagende en inspirerende gesondheidsreis. In 2017, op 18-jarige ouderdom, het ’n dokter op die sportveld vir hom gesê hy lyk buitengewoon bleek.
Verdere ondersoeke het getoon dat sy niere ingegee het. Sy nierfunksie was slegs 6% met ’n gevaarlik lae bloedtelling. Twee nieroorplantings het in Augustus 2018 en Oktober 2019 gevolg.

Henry du Plessis. Foto verskaf
Hy moes vir jare staat maak op hemo-dialise waar hy vir drie keer per week vir vier uur aan ’n masjien gekoppel was. Die boek dokumenteer sy reis met al die uitdagings wat hy ervaar het en ’n lang herstelproses.
Sy lewe het eindelik so genormaliseer dat hy sy onderwysstudie kon aanpak en voltooi.
Die kategorieë waarin skrywers kon meeding is fiksie, nie-fiksie, inspirerend. motiverend en kinderliteratuur.
Drie wenners sal met kontantpryse beloon word. Dit sluit in ’n spesifieke kontantprys vir die Boek met die meeste impak in 2026.
Ander Suid-Afrikaanse finaliste is Esau Dlamini, Curtis Sabelo Yende en Bhekisisa P. Basi, almal debuutskrywers. Die ander finaliste is van Zambië, Nigerië en Botswana.
Die publiek kan vir Du Plessis stem op AARA Best Debut Author Poll. Die sluitingsdatum is 20 November.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
