On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-boer toon steeds herstel ná wrede martel-aanval

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:23 Thu, 05 Nov 2026

Noordwes-boer toon steeds herstel ná wrede martel-aanval | News Article
Donovan Marx in die hospitaal. Foto verskaf

’n Noordwes-boer se familie sê dit is vir hulle ’n wonderwerk dat hy steeds leef, kan glimlag en elke dag sterker word ná ’n wrede plaasaanval.

Donovan Marx (50) se herstel toon bemoedigende vordering ondanks die ernstige beserings wat hy opgedoen het. Hy is steeds in die intensiewesorgeenheid van Mediclinic Potchefstroom nadat hy verlede Woensdag (28/11) op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp aangeval en gemartel is.

Die familie het ook vir die eerste keer sedert die aanval ’n foto van Marx in die hospitaal gedeel. “Ek wil hê Suid-Afrikaners moet die positiewe uitwerking van hul gebede en ondersteuning sien,” sê Louise, sy vrou.

“Die familie se harte loop oor van dankbaarheid en ons gee die Here alle eer vir sy herstel. Hoewel daar steeds uitdagings voorlê, glo ons dat hy die nodige krag sal ontvang om die pad vorentoe aan te pak.”

Twee vas ná wrede plaasaanval op Donovan Marx | News Article

Donovan en Louise Marx. Foto verskaf

Marx het lewensgevaarlike beserings opgedoen. Hy is in die bolyf geskiet, met ’n mes in die been gesteek en albei sy ore is afgesny. ’n Gedeelte van sy kolon moes ook chirurgies verwyder word, terwyl sy ore nie weer chirurgies geheg kon word nie.

Die familie het Dinsdag (3/11) gesê Marx het ’n mediese terugslag gehad wat verdere behandeling en ondersoeke genoodsaak het. “Hy is ondanks die terugslag in ’n bestendige toestand,” sê Marlene Steyn du Toit, die familie se prokureur.

Marx benodig steeds gespesialiseerde mediese sorg en noukeurige monitering. Die familie het hul dank uitgespreek teenoor die mediese span van Mediclinic Potchefstroom vir die sorg wat hy ontvang.
Beskuldigde het voorheen op gemartelde boer van Noordwes se plaas gewoon | News Article

Die vier beskuldigdes in die hof. Inlas: Donovan Marx. Foto: Skermgreep/AfriForum

Intussen duur die strafregtelike proses teen die verdagtes voort. Vier mans het Dinsdag (3/11) in die landdroshof in Ventersdorp verskyn in verband met die aanval. Hulle staan tereg op aanklagte wat poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, aanranding en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie insluit.

Een van die beskuldigdes het voorheen op die slagoffer se plaas gewoon, terwyl ’n ander moontlik ’n staatsgetuie kan word en teen sy medebeskuldigdes kan getuig. Die saak is tot 13 November uitgestel vir ’n moontlike borgtogaansoek. Die beskuldigdes se woonadresse en vorige veroordelings moet eers nagegaan word.

Tydens hul onderskeie inhegtenisnemings op Saterdag en Sondag het die polisie op vier vuurwapens beslag gelê, waarvan een met die aanval verbind word, asook op klere en juweliersware.

Die aanval het na bewering omstreeks 08:00 plaasgevind, toe die aanvallers ’n elektriese heining op die plaas geknip en ’n plaaswerker, Christopher Jings, oorrompel en vasgebind het. Jings is nie beseer nie.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.