On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Laurika
Show Background
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Olebogeng
Listen Live Streams

Yellow Door

'n Blog oor Blokkies

───   ALBÉ GROBBELAAR 08:00 Wed, 08 Aug 2012

'n Blog oor Blokkies | News Article

Jy kry twee soorte mense: Blokkiesraaimense, en die Res. Dit het Albe Grobbelaar vyftig jaar geneem om te ontdek hoe leeg sy lewe sonder blokkies was.

Dit was my oudste suster in Johannesburg, Anina Roux, wat my in die ding ingesleep het. Sy het seker goed dertig jaar lank op haar eie allerhande soorte blokkiesraaisels en woordspeletjies vir koerante en tydskrifte saamgestel. (In die ou dae is dit nog met potlood en liniaal gedoen!) Totdat die werk te veel geword het en sy hulp moes kry.

Eers het sy my jongste sussie in Stellenbosch tot blokraaie gaan bekeer. En toe het sy my in Bloemfontein kom werf. Daarna het haar dogter in Australië ook bygekom en toe het van ons ander kinders ook gevolg. Vandag is XWord ‘n stewige span van sewe. ‘n Bielie van ‘n blokkiesraai-besigheid deur bloed gebind!



Wat vir my as laatkommer in hierdie wonderlike woordwêreld die heel interessantste was, is die reuse verskeidenheid soorte blokkiesraaisels wat ‘n mens kry. Van die gewone blokraaie af, waar die leidrade binne-in die blokkies verskaf word, en die tradisionele blokkiesraaisels (met die swart en wit blokkies en die leidrade langsaan), tot by balkiesblokkies, fotoraaisels, kode-blokkiesraaisels, woordeskatblokkies, tematiese raaisels, en selfs ‘n geraamte-blokkiesraaisel.

Vryvorm-raaisels, waar die rooster die vorm van ‘n voorwerp soos ‘n kerk of ‘n kitaar of ‘n Kersfeesboom kan aanneem, is ook soms gewild.

Dan is daar nog die syferspel, Sudoku, en al sy trawante (wat die Hex-Sudoku, die Sudo-K en die Kakuro insluit) wat die afgelope dekade so gewild geword het. ‘n Mens is geneig om te dink dat hierdie soort getalleraaisels nuwe, meer onlangse toevoegings tot die blokkieswêreld was. Maar die eerste weergawes van hierdie soort wiskundige blokkies-spel het al so ver terug soos 1895 in ‘n Franse koerant verskyn.

 ‘n Mens moet nooit die wêreldwye gewildheid van blokkiesraaisels onderskat nie. Daar is min tydskrifte en koerante wat hulle sout werd is wat níe in letterlik elke uitgawe blokkiesraaisels vir hulle lesers verskaf nie. “The New York Times” se raaisels is seker van die bekendstes in die wêreld Die dokumentêre rolprent, “Wordplay”, oor die koerant se baie gewilde jaarlikse blokkiesraai-kompetisie, het die kleurryke blokkiesraaisel-redakteur, Will Shortz, ook aan ‘n wyer gehoor bekendgestel.

 My persoonlike gunsteling raaisel is gebaseer op ‘n ou Engelse woordspel, wat meer as ‘n honderd jaar gelede in Brittanje ontstaan het. Die Kriptiese Blokkiesraaisel (“Krippies” vir sy aanhangers), het ook in Afrikaans ‘n eie staanplek gevind tussen die magdom woordraaisels en kennisspeletjies wat daagliks verskyn. Dis ‘n raaisel vir die ingewydes, en, soos goeie whisky (in goeie Engels) “an acquired taste!”

Hoe verskil ‘n gewone blokkiesraaisel van ‘n kriptiese raaisel, wil jy weet? Ken jy dambord? Ken jy skaak? Say no more!

Die wêreld van die kriptiese raaisel is ‘n woordwêreld vir die fynproewer. Woordeboeke beskryf “kripties” nie verniet as duister, geheim, verborge en selfs misties nie. Die kriptiese leidraad probeer jou om die bos lei, dit speel wegkruipertjie met jou logika en denkpatrone. ‘n Goed saamgestelde kriptiese raaisel is ‘n ware Da Vinci-kode in die kleine.

As jy ‘n kriptiese raaisel wil ontsyfer, moet jy buite die boks dink en diep delf in jou algemene kennis. Jy moet weet dat die woord Derek vir “bo” ook kan staan (Bo Derek), of dat “al” ook na Al Pacino of Al Capone kan verwys. Die letters I, V, X, L en C kan die Romeinse syfers een, vyf, tien, vyftig en honderd wees. “Dean” kan na Dean Martin verwys en ‘n leidraad soos “Dean en ‘n Romein drink skemerkelkie”, kan “martini” wees (Martin plus Romeinse 1).

Jy moet besef dat Alfa, Bravo, Charlie en Delta nie noodwendig ‘n motor, ‘n uitroep van bewondering, ‘n seuntjie in ‘n sjokoladefabriek en ‘n riviermonding is nie. Hulle verwys moontlik na die letters A, B, C en D.

Jy moet selfs woorde in vreemde tale in ag neem, soos die Franse “le”, “la” en “les”, die Spaanse “el” en die Duitse “der” en “das”. Dan is daar nog Elmer Fudd, wat af en toe met sy snaakse spraakgebrek ‘n kriptiese leidraad kan opkikker, en die eksentrieke ds. Spooner, wat sy woorde omgedraai het. (Vir eerwaarde Spooner sou “Our dear old Queen” summier “Our queer old Dean” geword het!)

Een van die beste Engelse kriptiese leidrade waarop ek nog afgekom het, is bloot net die volgende letters van die alfabet:

“H I J K L M N O”

Die antwoord is WATER (“H2O”)!

Daar is anagramme, (“Botha” wat “Thabo” word) en charades, oftewel lettergreepraaisels. (“Bladsy oor Lollobrigida se vader” is ‘n charade-leidraad vir PAGINA). En daar is palindrome, wat van links na regs presies dieselfde lees as van regs na links, soos “non”, “lepel”, “abba” of “ete”. (Die bekendste voorbeeld waar ‘n hele sin ‘n palindroom is, was waarskynlik Napoleon wat glo sou gesê het: “Able was I ere I saw Elba!”)



Indien jy nog nooit ‘n kriptiese raaisel probeer het nie, onthou dat dit nooit te laat is om te begin nie. Maar wees gewaarsku: As jy gedink het Sudoku is verslawend, wag totdat jy die kronkelweë van die kriptiese wêreld betree.

Dambord vir jou? Of skaak? Hier word die seuns van die manne geskei.

(As jy lief is vir blokkiesraaisels, maak gerus ‘n draai op XWord se Facebook-bladsy by: http://www.facebook.com/XWordZA)
 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.