On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Laurika
Show Background
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Olebogeng
Listen Live Streams

Yellow Door

Blindelingse vertroue

───   CATHY DE LANGE 06:00 Tue, 02 Apr 2013

Blindelingse vertroue | News Article

Cathy de Lange het onlangs 'n draai in die teater gaan maak. Ongelukkig nie die tipe teater waar jy 'n produksie geniet en hande klap na die tyd nie. Dit het haar egter iets van vertroue geleer. En van krukke...

Middel 2012 het ek en my 1994 Opel Kadet so effense meningsverskil met 'n doringboom gehad. Daai dag het ek gesien: doringbome is hard. Baie hard. Doringboom-bly-staan-en-kadet-is-afgeskryf-hard. Die humor in daardie dag, kan ek nóú sê wanneer ek terugkyk, is dat daar nie eers iemand was vir wie ek kon kwaad wees oor die vervlakste ongeluk nie! Geen ander bestuurder om uit te trap oor hy of sy nie kan kyk waar hulle ry nie. Geen ander mens in sig om te blameer nie. Net ek en ek alleen wat beheer om die draai verloor het en doef! Sit ek met my kadet om die boom gevou en so op my eie uiter ek vir jou 'n string kragwoorde wat die slegste matroos na sy ma sou laat verlang. Seker meer oor ek so vrek kwaad was vir myself as enige iets anders. 

Ek het 'n vorige enkelbesering gehad en genadiglik die dag met die bogenoemde meningsverskil net die ligamente van die voet weer beseer, alhoewel dit op daardie oomblik gevoel het of hy op dertien plekke afgebreek het. Wat ek egter nie daardie dag agtergekom het nie, was dat die kraakbeen in my regterknie geskeur het. Dié sou later deur middel van 'n "scope" skoongeskraap en uitgehaal moes word. Dit het ek eers so paar weke terug uitgevind. Eintlik moet ek begin met bietjie agtergrond voor ek oor die knie uitbrei: ek is 31 going on 87 as jy kyk na my elle-lange lys van operasies en dinge wat ek al agter die rug het. Ek is vas oortuig daarvan dat as my mediese fonds hoor dis ek op die lyn daar rooi ligte en sirenes in hul kantore afgaan."NEE! Nie alweer Mev De Lange nie!! Wat is dit die keer?!" Dit het nou al die stadium bereik dat wanneer die suster in 'n saal my opname moet doen en sy vra "enige vorige operasies?" dan ruk ek my gelamineerde lysie uit wat ek in my beursie saamdra en vra "hoeveel plek het suster?". Van voet operasies tot pynblokke, karpale tonnels en keisersnitte - you name it. Mens sou dus dink dat ek teen hierdie tyd die hele operasie- en narkose-ding gewoond sou wees of hoe? Toe nou nie.

Ek was hierdie rondte vrek bang. Ek kan nie regtig sê presies hoekom nie, maar die hele ding van aan iemand anders se genade uitgelewer wees terwyl jy lights out op 'n yskoue teatertafel lê, het my hierdie keer regtig laat dink. En laat worry. En om aan hierdie tipe goed te lê en dink terwyl jy in daai gangetjie lê vóór jy in die teater ingaan is NIE die beste ding nie. Ek meen, vir 'n leek op die mediese terrein soos ek kan enige dokter vir my omtrent enige ding vertel en ek sal genoodsaak wees om dit te glo. Ek besef skielik dat dit gaan oor blindelingse vertroue. Daai oomblik wat jy nie regtig 'n ander keuse het as om oë toe te knyp en te vertou nie. Vertroue in die dokter wat aan jou liggaam gaan sny en (jy hoop) sy bes gaan doen om dit wat verkeerd gegaan het, weer te herstel. Vertroue in daai narkotiseur dat hy jou genoeg van daardie wit stoffies sal inspuit om jou totaal onbewus te laat van wat om jou en met jou aangaan, maar min genoeg daarvan sodat jy weer na die tyd kan wakker word. Vertroue in die hande wat jou hanteer, voor en na enige prosedure.

Ek staan verwonderd teenoor die gedagte. Die gedagte dat 'n mens jou volle vertroue, en by uitstek jou lewe op daardie oomblik, in die hande van totale vreemdelinge kan sit - en okei kan wees daarmee. Die gedagte dat daar mense is wat elke liewe dag met hierdie enorme verantwoordelikheid op hul skouers werk en dit ter wille van wildvreemdelinge se gesondheid, beterskap en 'n beter lewenskwaliteit. Die gedagte dat jy, in die oomblikke net voor jy in daardie lekker narkose-slaap wegraak, in die oë kan kyk van die suster wat hier langs jou staan en kan weet als sal oraait wees. Haar vriendelik stem wat sê "lekker slaap, ons sal mooi na jou kyk" is die laaste, gerusstellende ding wat jy hoor. Dit gee my moed, weet jy. Moed in die sin dat daar nog baie mooi en goeie dinge, en goeie mense, in die wêreld is. Als en almal is darem nie altyd nét sleg nie. Dis 'n lekker gedagte.

So is ek toe ook nou die "scope" deur. Die dokter het effens meer skade gesien toe hy daar begin rond snuffel as wat hy aanvanklik gedink het daar was. Die gevolg is dat ek 'n kleinerige knie operasie eerder as net 'n "scope" ondergaan het. Twee en 'n halwe weke van voet in die lug, rekstof kous om die been en fisioterapie my voorland. Krukke byderhand om mee te loop. Ek het ook, so terloops, agtergekom watter oulike, veeldoelige goed krukke is! Jy kan nogal heelwat take met hulle verrig, soos bv. om 'n gordyn toe te trek of 'n lig af te skakel. Nogal handige ou goedjies om byderhand te hê as mens been-af is!

Maar wag, nou moet ek eers weer my oefeninge gaan doen. Tyd om op al die goeie gedagtes wat ek bymekaar kan skraap te fokus en nie op die pyn nie - anders mag daai string matroos-woorde, wat ek so mooi weg gebêre het na die doringboom-episode, dalk net weer vandag hier onderlangs hul opwagting maak...

O ja en een laaste ding: ek lig vandag my hoed vir elke persoon in die mediese beroep. Ek dink nie die mensdom besef en waardeer altyd die ongelooflike werk wat julle doen nie. Julle is rockstars. Dankie.

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.