Yellow Door
Maar net 'n mens─── CHRISTO OLIVIER 18:23 Tue, 22 Oct 2013

Christo Olivier glo 'n mens hoef nie elke lewenstoets met lof te slaag nie al verwag die samelewing dit dikwels van jou.
Die ander dag raps iemand my oor die vingers oor ‘n fout wat ek tydens ‘n uitsending gemaak het. Ek probeer nog dink aan ‘n verskoning toe iemand anders vir my in die bresse tree met ‘n opmerking wat die straf en verleentheid so bietjie ligter maak: “ag toemaar, jy is ook maar net ‘n mens” en skielik voel ek beter. Hier is iemand wat verstaan; wat die skaal aan die anderkant van ons menswees nie te swaar laai met vereistes en standaarde waaraan ons dikwels nie kan voldoen nie.
En dis half ‘n troos om te voel jy hoef nie volmaak te wees nie, jy kan maar foute maak, jy hoef nie elke lewenstoets met lof te slaag nie al verwag die samelewing dit dikwels van jou. Ons sien mos graag die splinter in ons medemens se oog raak, is gou om te oordeel, af te skryf al is dit net menslik om soms jou motor te stamp, laat te kom vir ‘n afspraak, die verkeerde ding te sê, iemand se verjaarsdag te vergeet, die kos te verbrand, jou glas rooiwyn op iemand se duur wit tafeldoek om te stamp, jou selfoon in die toilet te laat val of ‘n speler se naam verkeerd uit te spreek. Bygesê, dit kan maklik ‘n verskoning word vir agtelosigheid, om ‘n etiket van middelmatigheid op alles te plak en mooi drome en ideale eerder te begrawe, want sê nou net ek maak dit nie, wat sal die mense sê, asof wat mense sê jou waarde bepaal.
En dis half ‘n troos om te voel jy hoef nie volmaak te wees nie, jy kan maar foute maak, jy hoef nie elke lewenstoets met lof te slaag nie al verwag die samelewing dit dikwels van jou. Ons sien mos graag die splinter in ons medemens se oog raak, is gou om te oordeel, af te skryf al is dit net menslik om soms jou motor te stamp, laat te kom vir ‘n afspraak, die verkeerde ding te sê, iemand se verjaarsdag te vergeet, die kos te verbrand, jou glas rooiwyn op iemand se duur wit tafeldoek om te stamp, jou selfoon in die toilet te laat val of ‘n speler se naam verkeerd uit te spreek. Bygesê, dit kan maklik ‘n verskoning word vir agtelosigheid, om ‘n etiket van middelmatigheid op alles te plak en mooi drome en ideale eerder te begrawe, want sê nou net ek maak dit nie, wat sal die mense sê, asof wat mense sê jou waarde bepaal.
Maar goed, om net mens te wees gaan sekerlik oor heelwat meer as ‘n ou paar ongelukkies wat jou hier en daar oorkom, waarvoor jy maklik ekskuus sê en aangaan asof niks gebeur het nie. Ja, die duik in die motor kan reggemaak, die tafeldoek gewas word en al jaag dit jou dalk ‘n paar rand uit die sak, kan jy ‘n nuwe selfoon gaan koop of ander kos maak in die plek van die wat gebrand het. Maar wat van die foute, verkeerde besluite of glipse met die tong waarvan die skade nooit regtig herstel kan word nie, wat jou lewe draaie laat loop wat jy nooit beplan het nie.
Ook dan, met katastrofiese gevolge en al, bly jy maar net ‘n mens. Ja, al sit jy miskien êrens in ‘n hoekie, ‘n “nobody” van wie niemand weet nie. Al steur niemand hulle juis aan wie en wat jy is nie, haal jy nooit die koerantopskrifte of kry jy nooit ‘n kloppie op die skouer nie, die goeie nuus is jy is op ‘n manier niks anders as die hoë bome nie, hulle wat die hoogste sport in die lewe bereik het, in die hoogste kringe beweeg, as rolmodelle beskou word, helde is, wie se handetekeninge gesog is. En dit gaan ook nie net oor foute en mislukkings nie.
Neem Jean de Villiers byvoorbeeld. Ek lees in Rapport van sy vrou en twee dogterjies wat op sy kop sit, ons manne ken mos van dit, en hoe hy lankal nie meer Boots and All of CSI op televisie kyk nie, maar Lollos, ‘n soort boere-Barney. Springbok-kaptein, maar ook ‘n eggenoot en pa vir sy kinders. Net ‘n mens, wat sy dogtertjie se handjie vashou wanneer sy bang is vir die donker.
Nou die aand by die Cheetahs se jaareindfunksie gesels ek in ontspanne atmosfeer met ‘n paar van die spelers, sterre op die rugbyveld, manne wat skares lok, met wie ondersteuners na ‘n wedstryd wil bladskud, wat toegejuig word as hulle goed speel, wen, maar onder kwaai kritiek deurloop as dinge skeefloop, hulle foute maak, aanslaan, mis skop, verloor. Maar ek besef ook weer as die eindfluitjie blaas, die applous verby is, hulle die kleedkamer se deur toetrek, hulle ook net mense is, gesinne het om voor te sorg, monde wat gevoed moet word, vrae het oor wat na rugby gebeur, drome droom oor die toekoms en al is rugby net ‘n spel, is dit hulle brood en botter, wil hulle ‘n sukses daarvan maak, mòèt hulle, anders is daar geen kontrakte nie.
En toe dink ek sommer weer aan party van die bekende mense wat ek so deur die jare in my eie loopbaan ontmoet het en dis nie om te probeer spog nie, dis net om my punt te illustreer. Om goeie redes kan ek enkeles se name nie noem nie. Baie van hulle sal vir die huidige geslag in elk geval totaal onbekend wees. Soos twee van ons vroeë Staatspresidente nadat Suid-Afrika ‘n Republiek geword het, meneer C.R.Swart en meneer John Vorster. Geharde politici wat soms omstrede was, maar ook manne met ‘n ander kant. Ek moes na sy aftrede dikwels opnames op oom Blackie, soos hy genoem was, se plaas gaan maak, daar waar hy pure boer met sy velskoene my altyd ingewag het as die motor stilhou, hoed in die een hand hoog bo die kop. Hy kon met smaak vertel hoe hy nooit seker was of hy op die plaas se naambord moes skryf “C.R.Swart De Aap” of “De Aap C.R.Swart” nie.
Vriendelike, sagte tant Nellie, sy vrou, het gou uitgevind van my sagte plekkie vir soetgoed en my swakheid vir appelliefie-tert en dit gereeld bedien as ek daar gekom het, al het ek haar hoeveel keer verseker ek kom nie om te eet nie. Maar nee, jy kom nie op die plaas sonder bietjie bederf nie. Op haar stil, skamerige manier het sy ook een van haar geheimpies met my gedeel. As oom Black êrens buite was het sy hom altyd met ‘n spesiale fluit geroep. Meneer John Vorster, het ek ontmoet toe hy een jaar sy Nuwejaarsboodskap vir die radio in ons ateljees in Port Elizabeth moes opneem omdat hy toe reeds by sy huis op Oubos vakansie gehou het. Ek sal nooit vergeet hoe ek hom die dag agter die mikrofoon laat sit het en senuweeagtig vir hom sê ons moet net eers sy balans, bedoelende stembalans, neem en hy so onderlangs met ‘n skewe glimlag brom dat hy piekfyn is en dat daar niks met sy balans verkeerd is nie. Na sy aftrede, maak ek opnames by sy woonstel in Port Elizabeth en vertel hy my van sy kleinseun wat nie sy kos wou eet nie. Hy probeer hom aanmoedig met ‘n “as daar niks in jou maag is nie, gaan dit pyn.” Later die middag het hy, meneer Vorster, hoofpyn en toe die kleinseun by oupa wil weet wat fout is, antwoord hy “my kop is seer,” waarop die klein mannetjie vermakerig terugkap met: “Dis seker omdat daar niks in is nie.”
Ag, en dan was daar die vriendelike vrou van die destydse Administrateur van die Vrystaat wat ek vir een of ander program by Vrystaathuis daar oorkant Oliewenhuis moes gaan opneem. Ons drink eers tee en sy bied my ‘n eetdingetjie aan – ja, al weer een van daai klein soetgoedjies, goeie ou “kondensmelk” in een van hierdie harde skuimpie doppies wat vroue so graag gebruik om iets lekker op te tower. By die huis sou ek dit waarskynlik heel in my mond gesit het, maar uit ordentlikheid neem ek ‘n klein happie….met rampspoedige gevolge. Die harde skuimpie-omhulsel breek en spat in hoeveel stukkies oral op my klere. Jy wens die aarde kan jou insluk. En tog……Op eg, moederlike wyse stel sy my op my gemak. “Aaaag dis niks. Weet jy wat? Ek is maar altyd bietjie bang as ek in ‘n mikrofoon moet praat. My “esse” fluit verskriklik, so ek plak altyd eers ‘n stukkie kougom agter my voortande, dan kom niemand iets agter nie, so nou weet jy” en dis haar beurt om effens te bloos terwyl sy die kougom gaan haal.
So, ‘n Springbokkaptein wat Lollos kyk, ‘n Staatspresident wat ook ‘n oupa is en by sy kleinseun moet hoor hy het niks tussen die ore nie, of twee vroue wie se mans die hoogste posisies in die land en provinsie beklee, maar een loop en fluit op die plaas en die ander een plak kougom agter haar tande omdat haar esse fluit. Ons ìs inderdaad almal na alles maar net mense.