Yellow Door
Dis heerlike Winter, die Somer is Verby─── ILSE SMALBERGER 18:20 Wed, 02 Jun 2010

Wolkomberse, warm sjokoladedrankies, pampoensop, knetterende kaggels en die blouste blou lug. Ilse Smalberger hóú van die winter.
Die winter was nog altyd vir my lekker.
Nou nie so lekker soos die lente nie; wanneer die natuur begin wakker word uit sy winterslaap en bome, blomme, gras, voëls, katte, honde en mense almal begin sprankel. Almal is opgewonde oor lang dae en kort nagte, oor braaivleis en koue wit wyn, oor somervakansies wat net om die draai is, oor krieket en pieknieks, en tot laat buite sit en kuier met “tea lights” en die glans van die volmaan die enigste lig wat nodig is.
Dis ook nie so mooi soos die herfs nie; wanneer die blare begin verkleur in geel, bruin en rooi en soos tapyte die strate toegooi. Dan neem ek vir my ‘n warmdingetjie in die hand (in geval dit koud word) en loop die buurt plat. Maar dit word nooit koud nie en die blare is sag en ruik klam onder mens se voete.
En dan kom die winter. Ek begin al regmaak vir die winter in die non-herfs, wat ons hier in sentraal Suid-Afrika ervaar. Die blare verkleur, ja, maar een dag trek jy nog ‘n T-hempie aan en die volgende dag moet jy diep in die donker hoekies van jou kas grawe vir ‘n serp.
Die jare het my al geleer. Ek ken die tekens van ‘n naderende winter. Vriende en familie hou nog lekker laataand kuierpartytjies buite, dan weet ek al – hy kom. Hoe weet ek dit? My lippe raak droog. Ek smeer lipsalfies aan vir die Springbokspan, maar my lippe bly droog. Dan weet ek – haal die winterslakens uit en bêre hulle naby, want Winter met sy groot grys jas en wit wolmus is aan’t kom hier oor die Atlantiese Oseaan.
Ek is nooit baie spyt as die eerste koue oggend aanbreek nie. Dan is my truie lankal uitgepak en somersandale het plekgemaak vir winterstewels. Ek blaai deur my resepteboeke en soek resepte uit vir sop, kerries, pasteie en bredies. Ek sit verwarmers aan (ons huis is koud!) en drink tee terwyl ek in die sonnigste kolletjie in die huis sit. Ek trek ‘n lekker dik trui aan (want dan is dit koud!) en gaan stap ver ente terwyl die geel en bruin en rooi blare onder my voete knars-knars. Ek steek die kaggel aan en die geknetter van die vuur hou my geselskap terwyl ek werk.
En ons hier in sentraal Suid-Afrika kén winter. Die Kapenaars het anderster winters; nat en koel (daai is nie koud nie, dis net koel). Die Natallers het geen idée waarvan mens praat as mens na die winter verwys nie. Die ouens in Limpopo? Ag asseblief. Phalaborwa, Messina, Tzaneen – heeltemal “clueless”. Op die Hoëveld begin hulle iets daarvan verstaan. Maar as jy die Winter in al sy yskoue brosheid wil beleef, kom Vrystaat toe. Hier waar die ryp soggens in ‘n dik wit laag lê en waar die koue tot in jou beenmurg kruip.
Winter in die Vrystaat is ongenaakbaar. Die kontoere van die natuur, die naakte beendere, is sigbaar. Die natuur rus.
Dit is miskien die grootste rede hoekom ek van die winter hou. Dis ‘n tyd vir rus, vir nabetragting, vir selfbeskouing. In die winter bly jy by die huis en herontdek die goed waarvan jy hou. Jy begin weer lees, of brei, of houtwerk doen, of bak vetkoeke en pannekoek. Jy blaai deur jou albums en sorteer foto’s uit. Jy bou legkaart saam met jou kinders, of familie se kinders, op die mat voor die kaggel of verwarmer. Jy kuier nie elke aand by of saam met ander mense nie, want dis te koud! Die mense wat jy wel opsoek, is spesiaal. Niemand trotseer immers ‘n koue Vrystaatse aand vir sommer enige een nie! Jy spandeer tyd by jou man of vrou, of kinders, of ouers, of broers en susters. Jy spandeer tyd met jouself.
En as die seisoen draai, as jy voel hoe die Lente aangehuppel kom met mandjies vol lentebloeisels dan is jy reg om haar te ontvang. Jy het gerus. Jy het jouself versamel uit al die hoekies en skeurtjies waarin ‘n mens soms vasgeval raak as jy te besig is met werk en familie en al die ander duisend goed wat jou aandag opeis.
Geniet dit. Verlustig jou in wolkouse en donskomberse. Gebruik die tyd om jou huis en jouself in orde te kry. Voor jy jou oë uitvee, is die winter verby. September is immers om die draai…