Yellow Door
Rolmodelle─── TIENIE CROUS 11:09 Thu, 14 Mar 2013

Tienie Crous wonder of daar 'n algemene stel vereistes is om as 'n rolmodel te kwalifiseer?
Die ding oor rolmodelle het my al lankal aan die wonder. Dis mos deesdae mode om jou op jou rolmodel se rol in jou lewe te beroep, al asof jy jou rolmodel verantwoordelik kan hou vir die dinge wat jy aanvang. Amper iets soos 'n versekeringspolis teen verwaandheid of stupiditeit. Ja, die meeste van ons het 'n rolmodel, en die invloed daarvan is nogal kragtig.
Wat maak van iemand 'n rolmodel? Wat veroorsaak dat iemand 'n ander mens as rolmodel voorhou? Is daar 'n algemene stel vereistes om as 'n rolmodel te kwalifiseer?
Nadat ek mooi hieroor gedink het, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat rolmodelle 'n onverklaarbare verskynsel is. Dis heeltemal te ingewikkeld om dit te probeer verstaan of verklaar, want daar is te veel hoeke en kante wat oorweeg moet word. Iemand wat vir die een mens 'n rolmodel is, sal byvoorbeeld deur 'n ander verguis word. Dalk is die probleem dat rolmodelle in soveel vorms en gedaantes voorkom, van oud tot jonk, mooi, minder aansienlik, lank, kort, slim en minder slim, skraal, mollig, vooruitstrewend, agterbaks, en selfs ingetoë.
Wat ek wel agtergekom het is dat daar verskillende soorte rolmodelle is, waarvan ek vier kon eien.
'n Pa of 'n ma, 'n ouma of dalk 'n onderwyser is voorbeelde van hierdie soort rolmodelle. Maar daar is ook baie ander, soos 'n winkelier, 'n skilder of sanger, die groentesmous, vir sommige 'n goeie vriend, selfs 'n kind. Dis mense soos die wat sonder uiterlike vertoon en bravade, maar deur voorbeeld in die hantering van alledaagse uitdagings, aanvoelbare integriteit en in nederigheid help vorm aan karakter en standpunt. Dis dié soort wat gewoonlik verbaas is wanneer hulle as rolmodelle aangeslaan word, omdat hulle maar altoos dieselfde is en sonder pretensies onder die radarskerm doenig is.
Die tweede soort is vir hulself so onweerstaanbaar oulik dat hulle sommer hul eie rolmodelle is. Dit is verstommend hoedat diesulkes glo dat hulle die goeie Vader se enigste gawe aan die mensdom is? Hierdie spesie beskik volgens eie mening oor 'n onuitputlike fontein van wysheid, vanaf die ekonomie tot landbou, die opvoedkunde tot politiek, aardverwarming, rugby, ballet, astrologie en religie. Hulle skroom ook nie om hul gewaande meerdere kennis meerderwaardig en sonder veel maniere aan ander oor te dra nie. Daarbenewens word hulle gewoonlik deur 'n paar getroue dissipels as lofsangers omring wat gepas na asem snak, saggies giggel en blinkoog aan hierdie wonderwerk uit die buitenste ruim se lippe hang. Vir hierdie selfaangestelde of gebreinspoelde juigkommando’s is die keiser g’n kaal nie!
Die begrip rolmodel het egter die afgelope tyd ook 'n fisiese dimensie aangeneem. Kyk maar na die figure (modelle) wat deesdae letterlik uit duur Duitse of swaargewig Amerikaanse motors rol. Hierdie nuwe soort rolmodelle het 'n interessante nuwe studieveld deur hul voorkoms en gedrag geskep. 'n Studie van hierdie rolmodelle kan met redelike gemak uitgevoer word omdat hulle in bepaalde lewenskringe, affiliasies en instansies gekonsentreer is, en slegs 'n goeie weegskaal vir die navorsing nodig is. Dit kan egter 'n langdurige studie raak omdat elke moontlike rolmodel respondent eers toegelaat sal moet word om behoorlik asem te skep. Gelukkig is die inleiding tot die verslag desjare reeds deur A.G. Visser in Lotos-Land neergepen:
Die trekkers word dikker en vetter…
Geen naat wat nog hou aan 'n baadjie,
Verantwoordelikste knope spring af,
Ou maer Jan de Jaer kry 'n vaatjie…
Die rietskraalste nooi word al plomper
En die vrouens versit meer geen tree,
Beweging word gaandeweg lomper…
'n Vierde soort rolmodel gee die pas deur onverskrokkenheid aan, en ignoreer met minagting onnodige en ondermaanse samelewingskonvensies. Dis hierdie hel(d)le wat stopstrate ignoreer, verkeersligte met disko-ligte verwar, die skool vir sy telg se mislike gedrag en vandalistiese neigings blameer, en die sypaadjie by die supermark as die Swartbergpas aansien wat met minagting aan die kragtige masjien van sy monsteragtige viertrek onderwerp moet word. Maar belangriker nog, dis hierdie soort wat blaam verplaas tot 'n fyn kuns ontwikkel het. Hoe kan ek verantwoordelikheid aanvaar vir die stopteken wat deur 'n imbesiel op die plek geplant is waar dit is? Dis mos nie my skuld dat ek nie tot binne-in die supermark kan ry om 'n brood te koop nie. Daarom parkeer ek so na as moontlik aan die deur en kan ek niks daaraan doen dat die sypaadjie is waar dit is nie. Ek kan nie help dat ek op onderwysers neersien nie, want dis hoe my pa was en dis hoe my seun ook maar is. Dis my standerd 2 juffrou se skuld dat ek my vrou aanrand, want dis omdat sy my aan die binneboud geknyp het as ek te lui was om my huiswerk te doen dat ek nou my vrou moet reghelp.
Eintlik is hierdie nuwe geslag leier wat verantwoordelikheid ontduik, blaam verplaas en verskoning soek die norm vir 'n nuwe tipe Suid-Afrikaanse rolmodel. Hierdie pestilensie het dieselfde dodelike afmetings aangeneem as die monsteragtige, antibioties weerstandige bakterieë waarteen mediese wetenskaplikes ons die afgelope paar dae waarsku. Gewone medisyne kan dit nie meer keer nie. 'n Nuwe volkslied kan dalk daartoe bydra om die nasionale psige te salwe of die sluimerende massa te laat wakkerskrik. Wat van die groep Shaggy se treffer van 'n paar jaar gelede? It wasn’t me:
(My girl just caught me) You let her catch you?
(I don't know how I let this happen) With who?
(The girl next door, you know) Man
(I don't know what to do) Say it wasn't you
But she caught me on the counter (It wasn't me)
I even had her in the shower (It wasn't me)
She even caught me on camera (It wasn't me)
Honey came in and she caught me red-handed
… say it wasn't you
Die versoeking om by die vierde soort in te val is groot, en as ek nie my lewensstyl goed dophou nie kan ek straks ook vir lidmaatskap van die derde groep kwalifiseer. Mag ek egter nooit by die tweede soort aansluit nie, want selfverheerliking en mensaanbidding lei te dikwels tot asemrowende ineenstortings.
Daarom bly ek maar liewer 'n gewone mens wat deur voorbeeld, selfrespek en liefde lei. Ek erken my foute en aanvaar my eie verantwoordelikhede, want niemand het verloor alvorens hy of sy iemand anders, of die omstandighede, begin blameer nie.