Agri Hour
OBP bekom tegnologie om snotsiekte te bekamp─── 05:00 Wed, 21 Apr 2021

Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) het ‘n lisensie-ooreenkoms met Moredun Instituut in Skotland onderteken om die tegnologie te bekom wat tot die finale ontwikkeling, registrasie en produksie van die entstof teen snotsiekte sal lei.
Sien onderstaande PODCAST
Volgens ‘n artikel deur die Rooivleis Produsente-organisasie, RPO, is snotsiekte ‘n dodelike siekte wat oor die afgelope dekades tot ernstige verliese in die beesboerderygemeenskap van Suid-Afrika gelei het. Dit is ‘n aanmeldbare en onbehandelbare virale siekte wat in beeste voorkom en meestal deur swart- en blouwildebeeste oorgedra word.
Die virus word spesifiek deur gesonde wildebeeste oorgedra. Wanneer die wildebeeste tydens die kalf- of speenperiode onder stres verkeer, word hul immuniteit onderdruk en skei hulle die snotsiekte-virus via hul asemhalingskanaal uit. Beeste wat binne ‘n omtrek van een kilometer van die wildebeeste is, sal ná ‘n maand of meer ná blootstelling simptome begin toon.
Duisende beeste vrek jaarliks weens die siekte en dit lei tot groot ekonomiese verliese vir beesboere. Die nood word vererger deur die onaangename aard van die siekte. Besmette diere ontwikkel akute longontsteking, wat daartoe lei dat hulle moeilik asemhaal en uiteindelik aan hul eie slym versmoor. Beeste met gevorderde gevalle van snotsiekte word dikwels uitgesit om verdere lyding te voorkom.
Luidens die artikel sê dr. Sello Maboe, tegniese bestuurder van OBP, daar is tans geen doeltreffende behandeling teen die siekte nie. Hoewel dit help om beeste tydens hoë risiko-periodes weg te beweeg van wildebeeste af, sal ‘n entstof help om ‘n lagie van beskerming aan beeskuddes te bied, veral daar waar dit nie prakties moontlik is om diere te skuif nie. Die beskikbaarheid van ‘n doeltreffende entstof sal daarom ‘n groot mylpaal in terme van voedselsekerheid en die beheer van die siekte wees. Dit sal ook die spanning tussen die beesboerdery- en wildsektore in die land verlig en ruimte vir elkeen skep om ‘n bydrae tot die land se landbou-ekonomie te lewer.
Dr. George Russell, hoofwetenskaplike van die Moredun Navorsingsinstituut het gesê daar word al vir langer as 15 jaar gewerk aan ‘n entstof teen snotsiekte. Nadat suksesvolle eksperimentele- en veldproewe in die Verenigde Koninkryk, Suid-Afrika en Kenia onderneem is, het Moredun besluit om die vennootskap met OBP te onderneem om die entstof te ontwikkel vir gebruik in Afrika.
OBP gaan saam met vennote in die Suid-Afrikaanse veebedryf saamwerk om die tegnologie verder te ontwikkel en te verbeter in die hoop om ‘n snotsiekte-entstof in die land te registreer en te loods. Aangesien daar tans geen ander entstof teen snotsiekte beskikbaar is nie, kan dit ook aan ander lande in Suid- en Oos-Afrika beskikbaar gestel word, waar die siekte ook voorkom.