Agri Hour
Beheer van bek-en-klouseer is van nasionale belang─── 05:00 Wed, 21 Jul 2021

Die rooivleisbedryf het jaarliks ‘n omset van meer as R80 miljard en daar word dikwels daarna verwys as die slapende reus van die Suid-Afrikaanse ekonomie.
Sien onderstaande PODCAST
Die Rooivleisprodusente-organisasie berig dat die rooivleisbedryf 40% getransformeer is en enorme potensiaal vir inklusiewe groei het. Die bedryf is hoogs mededingend in terme van die kwaliteit van die produk, terwyl pryse 30% onder die wêreldnorm is. Daar is ‘n realistiese potensiaal om beesvleisuitvoer van die huidge 5% na 20% van plaaslike produksie te laat groei. Die uitvoer van lewendige kleinvee vir slagdoeleindes het die potensiaal om tot soveel as 10% van produksie te groei.
Om dié potensiaal te verwesenlik word ‘n hoë dieresiektestatus en -beheer vereis. Suid-Afrika het onlangs sy bek-en-klouseervrye sone status by die internasionale organisasie vir dieregesondheid, die OIE, op ‘n permanente basis verloor en die jongste uitbreking in KwaZulu-Natal is ‘n verdere terugslag. Dit sal Suid-Afrika ten minste vyf jaar neem om sy status te herwin, maar as uitvoer intussen gaan groei, kan daar gesien word dat ons vordering met die proses gemaak het.
Dit is al vir ‘n geruime tyd duidelik dat besigheid soos gewoonlik nie voldoende is om bek-en-klouseer te bekamp nie. Die Department van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, sowel as die provinsiale landboudepartemente, is deeglik bewus van dié feit en is saam met die bedryf besig met ‘n proses om imbizos in die provinsies te hou wat deur bek-en-klouseer geraak word, naamlik Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal, waar daar besluite oor die pad vorentoe geneem sal word.
Van die bedryf se kant is die nasionale Dieregesondheidforum en provinsiale Dieregesondheidforums geherstruktureer ten einde die regering behulpsaam te wees met die bekamping van bek-en-klouseer. Die bedryf het reeds aangedui dat hy gretig is om ‘n bydrae in dié verband te lewer.
Die formele rooivleisbedryf is besig om ‘n memorandum met moontlike oplossings te finaliseer wat aan die Minister van Landbou oorhandig sal word.
Dit sluit in :
Bykomende befondsing van die Tesourie.
Hoe om kapasiteitsprobleme aan te spreek.
Behoeftes in terme van infrastruktuur.
Marktoegang.
Die RPO bedank die departement en die provinsiale departemente vir hul pogings in dié verband en sien daarna uit om in die toekoms nouer saam te werk.