Agri Hour
Groot verligting nadat drie provinsies as droogterampgebiede verklaar is─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 26 Jul 2021
Daar is groot verligting nadat die Noord-, Oos- en Wes-Kaap vandeesweek as droogterampgebiede verklaar is. Landbou-organisasies in dié provinsies het hierdie aankondiging met ope arms verwelkom.
Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, verduidelik dat hierdie 'n nasionale rampverklaring is wat toegepas kan word op die genoemde provinsies.
Sien onderstaande PODCAST
Dit volg nadat daar Dinsdag 20 Julie 2021 in die Staatskoernat gepubliseer is dat die bogenoemde drie provinsies as rampdroogtegebiede verklaar is.
Jansen verduidelik dat dit beteken dat die distrikte in dié provinsies nie by magte is om die ramp te mitigeer en aan te spreek nie. Die provinsies moet dus nasionaal aansoek doen vir hulp om die droogteramp te help bestuur.
“Prakties behoort die provinsiale rampbestuur nou die [nasionale] Departement van Landbou te nader en versoek om ‘n proses van stapel te stuur waarvolgens die geaffekteerde gebiede aansoek kan doen vir hulp. Hierdie aansoeke behoort dan as basis te dien vir die bepaling van die hoeveelheid hulp per eenheid gebaseer op 30 grootvee-eenhede se voerkoste vir drie maande,” sê Jansen.
Hy voeg by dat Agri Noord-Kaap aanbeveel dat die droogte verslag van die provinsiale landbou-departement gebruik moet word as basis om gebiede in nood te identifiseer. Hy verduidelik dat hierdie verslag bepaal dat R337 miljoen vir die Noord-Kaap nodig is om 30 grootvee eenhede vir drie maande te voed.
LEES: Getal volstruisprodusente neem af weens #droogte
Jansen beklemtoon dat daar van landboubesighede as verspreidingspunte gebruik gemaak moet word omdat die produk reeds plaaslik beskikbaar is en voer regoor die provinsie versprei is.
Hy sê egter dat wanneer daar van agentskappe gebruik gemaak word om die verspreiding van die hulp te hanteer, “dan het hulle ‘n sentrale aankooppunt, hulle handhaaf ‘n stewige winsmarge en dan word dit vervoer na die verskillende verspreidingspunte wat ‘n groot deel van die beskikbare hulp opneem.”
Die aansoeke vir droogtehulpfondse en die verwerking daarvan kan tyd neem en Jansen skat dat dit sowat drie maande gaan neem om hierdie administratiewe prosesse deur te werk.
Hy voeg by dat die organisasie, terwyl boere wag vir hierdie hulp, steeds voort sal gaan om hulp te verleen aan dié boere met behulp van die publiek se donasies en skenkings.
LEES: Interventions in drought-plagued NC
Jannie Strydom, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, het intussen in 'n mediaverklaring gesê die organisasie vertrou dat droogtegeteisterde gebiede in die provinsie ondersteuning sal ontvang.
Die soort hulp wat gelewer gaan word, is nog nie duidelik nie, maar hy sê droogtehulp in die vorm van veevoer en saad vir weiding, onder meer, sal verwelkom word.
OFM-nuus
