Agri Hour
#Droogte: Boere in die Karoo bid vir reën─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 11 Aug 2021
Nelly van der Walt, ‘n Dohne Marino-boer in die Karoo-hoogland in die Noord-Kaap, sê die droogte wat tans in die Sutherland-omgewing heers, het baie boere op hulle knieë.
Sy sê boere bid elke dag vir reën en is afhanklik van voerskenkings vir hulle diere.
Sien onderstaande PODCAST
Van der Walt, ‘n voormalige verpleegsuster, en haar man het sowat 27 jaar gelede Karoo toe getrek om daar te begin boer. Sy vertel dat sy veral lief was om met die diere te werk, terwyl haar man sy aandag op die landerye gevestig het.

Nadat haar man in 2004 op die ouderdom van 42 aan ‘n hartaanval oorlede is, moes Van der Walt die leisels oorneem. Maar, die droogte het nog nie teen daardie tyd sy kop uitgesteek nie. Dit het goed gegaan met die boerdery en daar was sowat 2 000 produserende Dohne marino-ooie gehad.
Die droogte het geleidelik begin, “en toe skielik op ‘n dag besef jy toe die damme leeg is en die lusern vrek uit – toe besef jy nou is [die droogte] met ons.
“Maar dis snaaks die hoop verlaat jou nooit. Jy dink net elke keer dit gaan nou hierdie jaar kom reën, en dan is jy tog so teleurgesteld as dit nie gebeur nie. Ek moet sê die laaste vyf jaar was die ergste,” deel Van der Walt.
Weens hierdie droogte het Van der Walt nou net sowat 730 produserende Dohne marino-ooie oor.
“Geleidelik moes jy maar nie ooilammers hou nie, want jy weet jy moet hulle voer en voer koop. Dan verkoop jy maar jou ooilammers dan raak al hoe meer ooie oud. So, dit het net geleidelik minder en minder geraak want jy kon net nie bekostig om vir almal voer te koop nie.”

Verder sê Van der Walt is boere in die omgewing verskriklik afhanklik van voerskenkings en selfs kospakkies van die publiek om aan die gang te bly.
Van der Walt boer nou al vir 17 jaar alleen.
LEES: Groot verligting nadat drie provinsies as droogterampgebiede verklaar is
OFM-nuus het vroeër berig dat die Noord-, Oos-, en Wes-Kaap in Julie vanjaar as rampdroogtegebiede verklaar is. Landbou-organisasies in dié provinsies het hierdie aankondiging met ope arms verwelkom nadat erge droogtetoestande reeds vir jare in die provinsies heers.
Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, het aan OFM-nuus gesê dat hierdie 'n nasionale rampverklaring is wat toegepas kan word op die genoemde provinsies.
Dit beteken dat die distrikte in dié provinsies nie by magte is om die ramp te mitigeer en aan te spreek nie. Die provinsies moet dus nasionaal aansoek doen vir hulp om die droogteramp te help bestuur.
Jansen sê prakties behoort die provinsiale rampbestuur nou die nasionale Departement van Landbou te nader en te versoek om ‘n proses van stapel te stuur waar die geaffekteerde gebiede aansoek kan doen vir hulp.
Intussen kan diegene wat graag skenkings wil maak vir boere in nood die Save the Sheep Facebook-blad of webtuiste besoek vir meer inligting.
Of besoek OFM se Agri Aid - Central SA stand together, back our farmers-blad vir meer organisasies om te ondersteun.
OFM-nuus
