On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agri Hour

Só lyk syfers vir plaasaanvalle en –moorde in Sentraal SA

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Mon, 06 Sep 2021

Só lyk syfers vir plaasaanvalle en –moorde in Sentraal SA | News Article

Plaasaanvalle en –moorde bly steeds ‘n groot bron van kommer in landbougemeenskappe.

Die Minister van Polisie, Bheki Cele, het onlangs die misdaadstatistieke bekendgemaak en aangedui dat 181 aanvalle op plase en kleinhoewes - waarvan 15 plaasmoorde was - vanaf 1 April tot 30 Junie 2021 regoor Suid-Afrika plaasgevind het. 

Sien onderstaande PODCAST

In lig hiervan, het OFM-nuus se Elsabé Richard met die verskeie landbou-organisasies in sentraal Suid-Afrika gesels om uit te vind hoe die syfers vir plaasaanvalle en –moorde in die Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes lyk.


Vrystaat

As daar na statistieke in die Vrystaat gekyk word, sê dr. Jane Buys van Vrystaat Landbou, is daar net minder as 20 plaasaanvalle gedurende 1 April en 30 Junie vanjaar in die provinsie aangemeld.

“In die tydperk van 1 April tot 30 Junie 2021, was daar 17 plaasaanvalle in die Vrystaat, wat een moord insluit. Die moord was op ‘n plaaswerker in die Qwaqwa-area.

“As ons kyk na die plaasmoorde, in dieselfde tyd gedurende die vorige finansiële jaar (2019/20), het daar drie plaasmoorde plaasgevind – dis dus ‘n afname in plaasmoorde in die Vrystaat.

“As ons kyk na plaasaanvalle, dan het ons dus 17 plaasaanvalle en moorde in totaal gehad - waar ses op produsente, drie op opkomende- en bestaansboere, vyf op werkers en voormanne en drie op persone was wat woonagtig op plase en kleinhoewes in die Vrystaat was,” voeg Buys by.

Sy sê in terme van plaasaanvalle en -moorde gedurende Julie en Augustus vanjaar is ‘n totaal van agt plaasaanvalle aangeteken, waarvan twee moorde is.

“In dieselfde tydperk verlede jaar, was daar 14 plaasaanvalle met geen moorde in die Vrystaat nie. Dit beteken dus daar is 'n redelike groot afname in plaasaanvalle in die Vrystaat te bespeur.”

LEES: Landbounuus-podcast: VS Polisie soek steeds vir plaasmoord verdagtes


Noordwes

Boeta du Toit, uitvoerede hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê sedert 8 Julie vanjaar het daar 11 plaasaanvalle tussen Zeerust en Rustenburg plaasgevind.

“In die Noordwes-provinsie is die misdaadvlakke nog steeds baie hoog en bly dit vir ons ‘n groot bron van kommer, veral plaasaanvalle waar daar sedert 8 Julie elf aanvalle tussen Rustenburg en Zeerust plaasgevind het. Die aanvallers is nog steeds, soos gewoonlik, baie gewelddadig en skroom nie om vuurwapens te gebruik nie.

“In een geval is ‘n persoon in die arm geskiet, in ‘n ander geval is ‘n slagoffer in die bors [geskiet] en gelukkig met die genade van Bo het hy dit oorleef.

“Noord van Zeerust het booswigte op die polisie geskiet toe hulle gekonfronteer is en in die Mareetsane-omgewing is twee SAPD-beamptes, wat veediewe gearresteer het, oorval en is hulle in hulle voertuig verbrand,” verduidelik Du Toit.

Hy voeg by die polisie se ondersteuning en ondersoekwerk laat veel te wense oor. Hy deel ook dat geregtigheid dikwels nie vir slagoffers geskied nie.

“Die druk op ons landbougemeenskappe is baie groot om hulle paraatheid te handhaaf en om hulle eiendom en hulle lewens te beskerm,” sê Du Toit.

Verder is hy van mening dat die SAPD die stryd teen die misdadigers verloor het.

“Elkeen op ‘n plaas het ‘n groot verantwoordelikheid om op plaasvlak te sorg dat hulle paraat en voorbereid is.”

Du Toit versoek boere om by hulle gemeenskapsveiligheidstrukture aan te sluit om ook sodoende hulle gemeenskap se belange te dien en ook die gemeenskap volledig te beskerm.

LEES: Landbounuus-podcast: 181 plaasaanvalle in tweede kwartaal van 2021 - Cele


Noord-Kaap

Wat die Nood-Kaap betref, deel Joe Scholtz van Agri Noord-Kaap, dat misdaad in landelike gebiede redelik onder beheer is en dat geen plaasmoorde gedurende die laaste drie maande in die provinsie aangemeld is nie.

“Die Noord-Kaap is ‘n baie goeie gesonde provinsie wat veiligheid in landelike gebiede aanbetref. Die afgelope drie maande het ons geen plaasmoord in die Noord-Kaap gehad nie. Ons het wel een polisiestasie gehad wat van vuurwapens beroof was. Binne ‘n kwessie van tien dae is al die wapens teruggevind.

“Ons het ook in verskeie kleiner dorpies, hier en daar, ‘n rooftog en bietjie geweld by winkels waar geld geroof word, maar in die algemeen is die landelike misdaad redelik goed onder beheer in die Noord-Kaap,” sê Scholtz.

Hy deel verder dat veediefstal egter ‘n probleem is in dié provinsie en dat algemene diefstal ook van die misdade is wat in die provinsie voorkom.

“In ons provinsie het ons baie goeie samewerking met ons plaaslike polisie, en waar daar nie is nie probeer ons dit regstel.

“Ons is geseënd met ‘n rustige provinsie met min probleme teenoor die res van die ander provinsies in ons land waarvoor ons uiters dankbaar is,” sluit Scholtz af.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.