On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agri Hour

Rooivleisbedryf tans gesond ten spyte van uitdagings

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Mon, 29 Nov 2021

Rooivleisbedryf tans gesond ten spyte van uitdagings | News Article
FOTO: PHOTOXPRESS

‘n Toename in veediefstal dié tyd van die jaar én dieregesondheid is van die voortdurende uitdagings wat die rooivleisbedryf ervaar.

Sien onderstaande PODCAST

Ten spyte van dié uitdagings is die rooivleisbedryf gesond en vorder dit goed. James Faber, voorsitter van die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), verduidelik dat die rooivleisbedryf een van die groei sektore in die land se ekonomie is wat gedurende die laaste jaar goed gedoen het.

“Daar is egter kommerwekkende goed wat gebeur en dit is die tekorte aan insette soos fosfaat, [ensovoorts] wat ons nie kan inkry nie [as gevolg van] wat by die hawens gebeur.”

Faber beklemtoon veediefstal, wat ‘n wesenlike probleem vir die bedryf is en wat veral dié tyd van die jaar toeneem. Hy maan produsente om op hulle hoede te wees gedurende die feestyd en verseker dat hulle diere gebrandmerk is.

LEES: Nuwe nasionale RPO-voorsitter praat oor planne, uitdagings

OFM-nuus het vroeër berig dat vee-eienaars versoek word om hulle diere te brandmerk, wat sal help met die identifikasie van hulle diere, sou dit gesteel word.

“Die veediewe is ingelig oor die diere wat nie gemerk is nie en in hierdie stadium is dit dié [diere] wat hulle teiken om te steel. Dit sluit in die ongemerkte kalwers, so voor hulle ses maande oud is… en ons kom ook agter dat hulle hulle toespits daarop om skape te steel wat nie getattoeëer is nie,” verduidelik Isabel Kruger, voorsitter van die Veediefstal Voorkomingsforum (VVF) in die Vrystaat.

Ander maniere om te verhoed dat veediewe diere steel, is om diere na aan die huis te skuif en om ook kamera’s en selfs halsbande met 'n elektroniese apparaat om vee se nekke te sit, wat deur 'n selfoon alarm maak sodra daar enige beweging is.

Verder is dieregesondheid ‘n groot bedreiging vir die rooivleisbedryf, en Faber sê dit hou ‘n groot bedreiging vir die bedryf in wanneer produsente nie hulle diere inent teen dieresiektes nie. Die beskikbaarheid van entstowwe en voorligtingsbeamptes wat nie hulle werk doen nie is ook nóg bedreigings tot die bedryf.


Só lyk pryse vir die produsent en verbruiker

Faber deel dat pryse hierdie tyd van die jaar tradisioneel geneig is om hoër te wees vir die verbruiker, terwyl dit stabiel bly vir die produsent. Maar daar ontstaan wel ‘n moontlikheid dat pryse ook bietjie hoër vir die produsent kan wees, sê Faber.

Sy advies vir verbruikers gedurende die feestyd is dat verbruikers hulle plaaslike slagters moet besoek. Dit gee dan die verbruiker die geleentheid om ‘n verhouding met hulle plaaslike slagters te bou.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.