Arts
‘Verstaan jou stories, en jy verstaan die lewe’─── ELSABÉ DE JAGER 14:01 Fri, 15 Sep 2023
Dit is belangrik dat die skrywer nie net die leser nie, maar ook homself moet verras in die skryfproses.
“Niks behalwe skryfwerk kan jou red nie. Dit keer dat die mure omval,” is die woorde van Charles Bukowski wat vir die akteur, regisseur en skrywer Sjaka S. Septembir sedert 1994 ’n riglyn op sy kunstenaarspad was.
Septembir, wie se debuutroman, Die bardo van Biko April, vroeër vanjaar in Bloemfontein bekendgestel is, sê as skrywer leen hy deurentyd toepaslike tegnieke van ander velde soos improvisasie, kreatiewe studies en asemhaling om die skryfproses te verryk en te ondersteun.

Skryf gee Sjaka S. Septembir eindelose genot. Foto verskaf
Dit is dan ook hierdie leenproses wat Septembir wil toepas in die werksessie wat hy aan skrywers in die kleurryke My Blom-ateljee buite Bloemfontein aanbied. Sy doelwit is om die 15 skrywers om die tafel op ’n ontdekkingsreis te neem en hulle met meer selfvertroue en kreatiewe tegnieke te bemagtig.
Vir Septembir is die teatertegniek improvisasie, wat daarop dui dat die akteur spontaan “ja” sê vir enige idee wat tydens die spel by hom opkom, ook belangrik vir toepassing in die skryfwerk. Sodra ’n skrywer begin improviseer en nie heeltyd redigeer nie, lê hy waagmoed aan die dag.
“Waagmoed” is dan ook die tema van hierdie skryfkursus. Dit is belangrik dat die skrywer nie net die leser nie, maar ook homself moet verras in die skryfproses.

Sjaka saam met Melinda en Coco in My Blom-studio. Foto verskaf
Asemhalingsoefeninge kan ’n skrywer laat ontspan en verskillende emosies by hom aanwakker. Deur te ontspan, sien hy kans om waaghalsig met sy skryfwerk om te gaan, en sy karakters verskillend te laat asemhaal. Mettertyd sal die skrywer ook verskillende emosies na die bladsy bring.
Vir Septembir, wat deesdae in Bloemfontein woon, gee skryfwerk eindelose genot. Hy leer nie net aspirantskrywers om te skryf nie, maar hy bring die boodskap aan alle mense oor, sodra jy jou eie stories verstaan, verstaan jy die lewe beter.
OFM Nuus/Elsabé de Jager
