Arts
Pianis Ida Pelliccioli maak haar buiging in Bloemfontein─── 10:00 Thu, 19 Oct 2023

Ida Pelliccioli bring haar liefde vir die klavier na Bloemfontein in 'n besonderse geleentheid by die Odeion. Marius Coetzee, Innoverings en ontwikkelings bestuurder by die Odeion Skool vir Musiek, vertel wat die program behels.
Ida Pelliccioli is in Bergamo, Italië, gebore. Sy studeer aan die Nice Conservatoire de Région en aan die Ecole Normale de Musique de Paris - Alfred Cortot in die klas van Serguei Markarov, Unesco Artist for Peace. Tydens haar studie het Pelliccioli verskeie beurse ontvang, een van die Zygmunt Zaleski-stigting en een van Fondation Albert Roussel.
Pelliccioli het aan verskeie meesterklasse deelgeneem, onder andere saam met Jean-Claude Pennetier, Gerard Wyss en het 'n dubbele diploma in vertolking en pedagogie by die École Normale in Parys ontvang.
Sy het artistieke leiding ontvang van Norma Fisher wat aan die Royal College of Music in Londen doseer, Stephen Gutman, en sy is een van die seldsame pianiste wat leiding ontvang het van die Kubaanse konsertpianis Jorge Luis Prats.
Sy het verkies om die internasionale kompetisiekring te vermy en het, voordat sy 'n voltydse pianis geword het, 'n dubbele meestersdiploma aan die Sorbonne-universiteit ontvang - in Italiaanse letterkunde en in antieke Griekse geskiedenis, wat vir laasgenoemde spesialiseer in die beoefening van musiek gedurende die Hellenistiese tydperk . Sy het al in Europa en Amerika opgetree.