On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Arts

Gee dié Kersfees vir jou kroos boeke, en maak ‘deurtjies oop na ander wêrelde’

───   MORNÉ VAN ROOYEN 12:10 Tue, 19 Dec 2023

Gee dié Kersfees vir jou kroos boeke, en maak ‘deurtjies oop na ander wêrelde’ | News Article
Fanie Viljoen raai ouers en grootouers aan om ’n boek in hul kinders en kleinkinders se Kerskous te sit. Foto: Facebook

“Die slim mense sal sê boeke is ’n belegging in ’n kind se toekoms, maar boeke is veel meer as dit.”

’n Bloemfonteinse skrywer sê enigeen wat vir hul kind of kleinkind ’n boek vir Kersfees wil gee, verdien ’n klop op die skouer.

“Die slim mense sal sê boeke is ’n belegging in ’n kind se toekoms, maar boeke is veel meer as dit: Elke boek besit iets magies,” sê Fanie Viljoen, “Dink maar net aan die boeke wat jy as kind gelees het: Was dit dalk Pipi Langkous, Trompie of Saartjie? En ná al die jare onthou jy steeds daardie boeke.”

Hy besef egter: “Nie alle kinders wil vandag lees nie. Dalk het hulle nog net nie die regte boek gevind nie.”

Hoe vind hulle daardie boek? “Neem die kinders na ’n boekwinkel toe en laat hulleself vir hulle boeke kies. Dalk is dit ’n grappieboek, ’n griller, avontuurverhaal of ’n fantasieverhaal.

Fanie Viljoen sê ’n volwassene is nooit te oud om ook ’n kinder- of jeugboek te geniet nie. Foto: Facebook

“En as hulle by een genre, soos strokiesprente, vashaak, is dit doodreg; hulle lees darem. So, kry hierdie Kersfees ’n boek vir jou kinders, en natuurlik is volwassenes nooit te oud om ook self ’n kinderboek te lees nie.”

Nes met volwassenes voer boeke kinders ook mee na ander wêrelde, “en bied geheime deurtjies waardeur hulle kan ontsnap. Boeke is ook soos spieëls. Kinders sien hulleself in die boeke en in die stories, en besef: Hulle is dalk nie so vreemd soos wat hulle eens gedink het nie.”

Hy sê wanneer ’n boek ’n jong leser aangryp, lees hulle dit weer en weer. “Hulle leen dit vir hulle vriende en gaan vir jou ook die grappige of die grillerige dele wil voorlees. En hoe lekker is dit nou nie!”

OFM Nuus/Morné van Rooyen

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.