Arts
Uitstalling: Great Expectations kom Vrystaat toe─── 14:15 Wed, 13 Mar 2024
“Namate Suid-Afrika voorberei vir die algemene verkiesing, ruim Great Expectations ’n oomblik in om na te dink oor die drome en hoop wat byna drie dekades gelede gekoester is vir ’n vrye en gelyke Suid-Afrika.”
Die Oliewenhuis-kunsmuseum is opgewonde om aan te kondig dat Great Expectations, uitgekose werke uit ArtbankSA se versameling kontemporêre kuns, van 14 Maart tot 5 Mei in die museum uitgestal word.
Die treffende tog inspirerende uitstalling word van die Javett-kunssentrum aan die Universiteit van Pretoria na die Vrystaat gebring ter wille van plaaslike kunsliefhebbers, sê Ester le Roux, Oliewenhuis se kurator.
“Namate Suid-Afrika voorberei vir die algemene verkiesing, ruim Great Expectations ’n oomblik in om na te dink oor die drome en hoop wat byna drie dekades gelede gekoester is vir ’n vrye en gelyke Suid-Afrika,” sê sy.

Oliewenhuis Kunsmuseum in Bloemfontein. Foto’s: Facebook
Sy beskryf die uitstalling as ’n “betekenisvolle verkenning van identiteit, samelewing, die beboude omgewing, en die gees van die tyd in die konteks van die land se 30-jarige reis na demokrasie”.
Great Expectations is saamgestel deur Nonto Msomi, ArtBankSA se projekbestuurder. Dit bevat werke deur Suid-Afrikaanse kontemporêre kunstenaars soos Banele Khoza, Lithemba Mpambani, Luyanda Zindela, Mkhize Khulekani, Mothobi Mefane, Thando Mama, Zakhale Hlabisa en Mellaney Roberts.
“Die geselekteerde kunstenaars se werke lewer ’n monumentale bydrae in die vasvang van die komplekse tapisserie van ervarings, aspirasies en uitdagings wat die nasie gedurende sy postapartheid-era gevorm het,” voeg Le Roux by.
Die publiek word uitgenooi om Donderdag (14/3) om 19:00 by die Oliewenhuis-kunsmuseum aan te sluit vir die opening van Great Expectations. Almal is welkom en toegang is gratis. Verversings sal bedien word.
Die uitstalling kan besigtig word tot Sondag 5 Mei. Oliewenhuis is geleë by Harry Smithstraat 16, Arboretum.
