Arts
Kleurvolle ‘Kaskenades’ bring groot les met lag en pret aan jongfeesgangers─── ELZETTE BOUCHER 12:18 Thu, 17 Jul 2025

’n Belangrike lewensles word op prettige wyse met skaterlag aan die jongspan oorgedra deur ’n studentegeselskap van Stellenbosch Universiteit by vanjaar se Vrystaat Kunstefees.
Die kinderproduksie “Kaskenades” het sy oorsprong in ’n eindjaareksamen gehad. “Ons was ’n groep van sewe wat bymekaar gekom het en ons kon enige tema kies. Die kwessie van aardverwarming en oorverbruik het ons almal op die hart gelê,” vertel Mikayla Klerck, een van die geselskap.
Die groep wou hierdie belangrike boodskap aan die jonger geslag oordra en het besluit op ’n kinderproduksie. “Ons het so verlief geraak op die produksie dat ons gesê het ons gaan hom nie net eindig by ons eindjaareksamen nie. Ons is baie opgewonde om dit nou uiteindelik te doen voor ’n gehoor vol kinders.”
“Dit gaan oor Blommie, wat ’n sewe-en-’n-halfjarige meisie is, en dan kom ’n kasmannetjie, wat agter elke persoon se kas woon en verantwoordelik is om hulle kas skoon te maak,” vertel Caeli Achenbach.
Daar is ook die magsbehepte Monsokster, Kasper – ’n trotse kaskadet van die Kaskenade-alliansie – Wanda Waterwerker, en ’n hele rits ander kleurvolle, opwindende karakters.
“Daar is nie ’n maklike woord om al die karakters op te som nie. Dit is net ’n warrelwind van alles – kreatief en kleurvol,” lag die twee.
Mikayla Klerck en Caeli Achenbach is te sien in “Kaskenades” by die Vrystaat Kunstefees. Foto: OFM
Kinders tussen ses en tien jaar behoort veral die produksie te geniet en ontvanklik vir die boodskap te wees. “Ons bespreek – eintlik op ’n baie kreatiewe manier, en glad nie prekerig nie – wat dit beteken om te oorverbruik en om nie materialisties te wees nie, om te deel en nie so vas te hou aan die wêreld se goed nie.”
“Kaskenades” is nog te sien in die Odeion-amfiteater op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat om 15:00 op 17 Julie, 16:00 op 18 Julie en om 09:00 op 19 Julie.
OFM is ’n trotse mediaborg van die Vrystaat Kunstefees.
OFM cg