Arts
Resensie: Nostalgiese blik op studentwees in vroeë 1990’s─── 09:00 Sat, 19 Jul 2025

“Gebou soos Steffi Graf”, ’n lewenslustige produksie uit die pen van Chris Vorster, verplaas die gehoor na ’n tyd toe studentwees in Stellenbosch wild en heerlik ongebonde was. Veral vir ’n groep vriende in die nou omstrede Wilgenhof-koshuis.
Vorster speel Eben, ’n ou Wilgenhoffer wat ’n verhoogstuk by die Teksmark, oor sy studentedae, op die planke bring. Hierdeur kry die gehoor met al die nostalgie, staatjies, onnoselheid en pure kattekwaad te doen. Eben het wonderlike staaltjies om in sy verhoogstuk in te werk, maar is ’n groentjie in teaterwese. Dit bring heerlike humor en fyn spot.
Eben stel ’n mens ook voor aan sy vriende. Die gehoor ontmoet vir Asbak, Wors, K*khuis en Kondoom. Elkeen van hulle het ’n storie en ’n stem. Chris se vermoë om al hierdie verskillende karakters uit te beeld en op verskillende maniere te laat praat, is baie goed gedoen. En uiters snaaks.
In die nadraai van ’n grensoorlog waarin hierdie studente almal was, het iets daarvan wel steeds in hulle elkeen geklou. Dit word met deernis aan die gehoor oorgedra. Dit word wel nie as verskoning voorgehou of tema gebruik nie. Dat hulle die oorlog oorleef het, is ’n wonderwerk, maar dat hulle die rowwe studentedae oorleef het, is genade.
Tussen die wanorde en kattekwaad skuil wel iets dieper. Die betekenisvolle vriendskappe wat ’n leeftyd hou, die laaste asem van jeug sonder verantwoordelikhede, en die stille impak van ’n tyd wat niemand heeltemal ongeskonde gelaat het nie.
Dié stuk vier nie net die dwaasheid van jeug nie, maar ook die menslikheid van ’n generasie wat met oorgawe geleef het, juis omdat hulle geweet het: die lewe is besig om te begin, maar nog net vir nou, behoort dit net aan hulle. Die hoogste lof aan Vorster vir sy skrywersvernuf en opvoering.
Karen van der Berg/Vrystaat Kunstefees