On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Arts

Kultuurgeskiedenis-kongres werp lig op argitektuur in Suid-Vrystaat

───   SUSAN MARÉ 09:37 Fri, 01 Aug 2025

Kultuurgeskiedenis-kongres werp lig op argitektuur in Suid-Vrystaat | News Article
Die Karoo Artist’s Cafe is een van die mooi, ou geboue op Philippolis. Foto: Jens Friis

’n Interessante program wag op deelnemers aan die jaarkongres van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kultuurgeskiedenis (SAVK) op 29 en 30 Augustus op Philippolis.

Die SAVK is ’n vakwetenskaplike vereniging wat in 1982 gestig is om die beoefening van kultuurgeskiedenis in Suid-Afrika te bevorder. Vanjaar val die kollig op Suid-Afrikaanse argitektuur as integrale deel van kultuur-identiteit en -erfenis.

Dit is vir die SAVK ’n voorreg om vanjaar se nasionale kongres op Philippolis aan te bied, veral omdat dié dorp as die oudste nedersetting in die Vrystaat belangrike argitektuur en historiese geboue huisves wat bydra tot ’n ryk kultuurerfenis, sê dr. Vicky Heunis, sameroeper van die reëlingskomitee.

Altesaam 21 sprekers uit alle uithoeke van die land gaan hul insigte en navorsing oor ’n wye spektrum deel. Net ’n beperkte getal kongresgangers kan die geleentheid bywoon, sê Heunis. Die inskrywings sluit op 1 Augustus.

Die Artist Cafe. Foto verskaf

Meintjies Louw, die gasspreker, is verbonde aan die Griekwa-Huis op Philippolis wat erfenis van die Khoi en San bewaar. Hy was deel van ’n span wat bygedra het tot restourasiewerk op die dorp.

Philippolis is in 1823 gestig toe die Londense Sendinggenootskap onder leiding van eerw. John Philip ’n perseel gekies het waarop ’n sendingstasie begin is om die Griekwas te bearbei. Philip was van 1819 tot 1849 die superintendent.

Dié oudste dorp in die Vrystaat is vandag ’n juweel met sy veral historiese geboue met uitsonderlike argitektuur. Die joernalis Jens Friis, wat op die dorp grootgeword het, het ’n koffietafelboek die lig laat sien wat die argitektuur van die dorp en omgewing uitbeeld.

Die dorpsbiblioteek en die Transgariep-museum. Foto verskaf

Bekende name word aan die dorp verbind soos sir Laurens van der Post, Emily Hobhouse wat in 1905 ’n weefskool in Philippolis begin het, akteurs soos Brümilda van Rensburg, sportsterre soos Adriaan Strauss en Phillip Snyman en die jong skrywer Terry Terblanche Botha.


Prof. Matilda Burden, voorsitter van die SAVK en kultuurhistorikus van die Universiteit Stellenbosch, beklemtoon hoe “ongelooflik belangrik” kultuur in mense se lewe is. Dit is “alles wat mense doen, sê, maak en skep en is deel van menswees”. Die rol wat die SAVK speel is om dit vakwetenskaplik te bestudeer.

“Kultuurerfenis is tasbare, maar ook ontasbare dinge soos geloof, taal, stories, vertellings – dit is alles deel van ons kultuurgeskiedenis.”

Rig navrae oor die kongres aan Heunis by 082 334 3863.

OFM Nuus/Susan Maré

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.