Arts
Viool en orrel opwindende pasmaats in uitvoering in Odeion op 25 Oktober─── 09:00 Thu, 09 Oct 2025

Liefhebbers van sowel viool- as orrelmusiek en met uiteenlopende musikale smaak kan begin uitsien na ’n ryke program van bekende komponiste op 25 Oktober in die Odeion in Bloemfontein.
Zanta Hofmeyr en Cameron Upchurch gaan ’n gevarieerde program van bekende werke soos die “Adagio” deur Tomasso Albinoni en “The Lark Ascending” deur Vaughan-Williams aanbied.
Daarbenewens is daar ook opwindende nuwe toevoegings tot die repertoire soos die “Romanse vir viool en orrel” deur die Sweedse komponis en orrelis Otto Ohlsson, en “Gothic Hymn” deur die jong Amerikaanse orrelis Daniel Ficcari.
Hofmeyr sluit by Yolanda Maartens aan in die OFM Kunsteklub met al die besonderhede.
Musiek vir viool en pyporrel het oor die eeue baie gewild geword. Die orrel het moontlikhede wat vergelykbaar is met dié van 'n simfonieorkes danksy al die verskillende registrasie-opsies wat orkesinstrumente verteenwoordig.
Die volgehoue klank op die orrel bied ook kooragtige begeleiding vir die viool, wat groot bewegingsvryheid vir die viool toelaat wat nie met die klavier moontlik sou wees nie.
Zanta Hofmeyr
Hofmeyr het gegradueer aan die Juilliard School of Music (New York) as student van Dorothy Delay en Hyo Kang. Ná haar debuut in New York in die Carnegie Recital Hall, het sy na Suid-Afrika teruggekeer.
Sy gee nou vioolles in Johannesburg en aan die Universiteit van die Witwatersrand.
Cameron Upchurch
Upchurch het vir die grade B.Mus.- en M.Mus. aan die destydse Universiteit van Natal en Durban-Westville gestudeer, waar hy orrel studeer het onder Errol Slatter en Kobus du Plooy.
Dié lewenslange toegewyde liturgiese musikant het in sy meestersgraadnavorsing gefokus op die liturgiese hervormings van die Tweede Vatikaanse Konsilie en die uitwerking daarvan op Katolieke kerkmusiek.
Hierdie konsert sal verseker gehoorlede met uiteenlopende musikale smaak en liefhebbers van sowel viool- as orrelmusiek lok.
OFM cvs