Arts
‘Mooi stem nie genoeg om opera te sing’ – besoekende mezzo─── MORNÉ VAN ROOYEN 17:13 Mon, 16 Mar 2026
Natuurlik het jy ’n mooi stem nodig om opera te sing, vertel ’n mezzosopraan, wat onlangs in Bloemfontein opgetree het, maar dis nie genoeg nie.
Violina Anguelov het musiekliefhebbers Saterdagaand (14/3) in die Odeion op die Kovisekampus betower met haar vertolking van die Franse komponis Hector Berlioz se liedsiklus Les Nuits d’été (‘Somernagte’). Dis gegrond op ses gedigte van Théophile Gautier wat die verloop van die liefde verken.
Frans is naas Duits en Italiaans een van die tale waarin operasangers moet kan sing. “Jy het ’n kennis van tale nodig,” vertel Anguelov, wat in 1992 uit Bulgarye na Suid-Afrika verhuis het, oor wat dit verg om ’n suksesvolle klassieke sanger te wees. “As jy ’n natuurlike aanleg vir tale het, is jy gelukkig, maar so nie moet jy regtig hard daaraan werk.”

As Carmen in Kaapstad-opera se produksie van die gelyknamige opera in 2011. Foto verskaf
Dit is nie nodig om verskeie tale vlot te praat nie, maar jy moet die vernaamste tale verstaan, sê sy, “in die konteks van die musiek sodat jy ’n werk dramaties kan aanbied”.
Dis nog iets waarsonder ’n operasanger sal swaarkry: die vermoë om toneel te speel. “Jy kan leer, maar jy moet ’n aangebore talent hê sodat jy kan verstaan wat die regisseur vir jou sê en om sin te maak van die dramatiese gebeure.”
Hoewel gehore net die eindproduk sien wanneer die gordyn lig, kos die voorbereiding op ’n operaproduksie sweet en soms selfs trane. “Dit verg vasberadenheid,” vertel Anguelov, wat voltyds werk as sanglektrise aan die SA Musiekkollege van die Universiteit van Kaapstad.

By ’n konsertopvoering van die opera Lucia di Lammermoor in die Kunstekaap in April 2013 saam met (van links) die tenoor Colin Lee, sopraan Pretty Yende, die dirigent sir Richard Bonynge en wyle George Stevens. Foto verskaf
“Vir baie is dit ’n moeilike werk in sommige opsigte. Dit verg geduld, want dit duur lank om die stem te ontwikkel, maar ook volharding, want ’n mens moet gedurig aanhou werk aan jou stem.”
In dié bedryf is ’n blaaskans buite die kwessie. “Jy kan nie besluit jy gaan vir ’n ruk ophou werk nie, want jou sangspiere leer vinnig die tegniek aan, maar vergeet ewe vinnig. As jy dus vir ’n ruk wil ophou sing, moet jy bereid wees om vir ’n rukkie daarna weer van vooraf te begin.”
Gelukkig sal ’n stem wat eenmaal ontwikkel en geoefen was, vinnig weer op peil kan kom, vertel sy, “maar tot jy weer op standaard is, moet jy net deurdruk”.

Violina Anguelov se seun, Peter Anguelov, het op 17 Maart 2024 saam met haar in ’n konsert in Erin Hall in Rondebosch opgetree. Foto verskaf
Anguelov sê soos ’n mens ouer word en jou liggaam verander, verander die stem ook. “Die spiere raak effens slapper; daarom moet jy anders werk, hoewel jy dieselfde tegniek behou, om die stem soepel, jonk en ondersteun te hou.”
’n Sangloopbaan verg toewyding elke uur van die dag, elke dag van die jaar, vertel sy. “Jy moet mooi na jouself kyk; nie noodwendig na wat jy eet nie, maar jy moet beslis sorg dat jy nie drink nie, nie laat saans uitbly nie en genoeg slaap kry, omdat die liggaam so belangrik is vir sang.”
LEES OOK Bloemfonteinse optrede: Mezzosopraan sing al van vier af
Die stem word deur die liggaam ondersteun, verduidelik sy. “Jou liggaam moet gesond en sterk wees. ’n Mens moet ook wegbly uit koue omgewings waar jy verkoue kan kry.”
Sangers moenie skree of gil nie om hul stem te beskerm. “So baie gebeur agter die skerms; daarom moet jy jou gesond hou voor elke optrede. Jy moet wakker word en jou stem moet daar wees.”
Soms is dit egter nie, weens griep, laringitis, mangelontsteking, allergieë, ’n maagvirus, noem maar op. “Dit alles kan jou as ’n mens oorkom, maar as jou tegniek goed gevestig is, sal jy wel kan sing,” sê Anguelov. “Miskien nie so uitstekend soos jy sou wou nie, maar jy moet kan sing.”

Violina Anguelov het onlangs in Bloemfontein opgetree toe die Japannese dirigent Yasuo Shinokazi (regs) die Vrystaatse Simfonieorkes gedirigeer het. Daniel Boico (regs) is direkteur van dié orkes. Foto verskaf
Die paar kere wat sy ondanks ongesteldheid moes optree, was taai, erken sy. “Maar byt vas en vertrou dat alles goed sal afloop. Jy moet dit net doen en jy kan, want die gehoor het hul kaartjies gekoop en hulle gee nie om (of jy siek is) nie.”
Behalwe dat ’n sanger deurentyd hoër moet streef, is dit ook belangrik om belang te stel in die werk van ander sangers wêreldwyd. “Leer van hulle werk – nie net die goeie goed nie, maar besef soms ook: Hulle doen iets nie goed nie; ek behoort dit nie so te doen nie.”
Een van die voordele van ’n sangloopbaan, vertel Anguelov, is dat jy gedurig nuwe mense ontmoet. “Almal verskil, maar op die een of ander manier moet julle saamwerk, selfs al hou jy nie van hulle nie. Daarom moet jou persoonlikheid buigsaam en aanpasbaar wees.”

