On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Arts

Senior Serenade bring weer klassieke musiek en Kersvreugde

───   08:00 Thu, 05 Nov 2026

Senior Serenade bring weer klassieke musiek en Kersvreugde  | News Article
Senior Serenade, in samewerking met Pro Strings en vriende, vind vanjaar weer in Bloemfontein plaas. Foto verskaf

Vir baie bejaardes is Kersfees nie noodwendig ’n tyd van vrolikheid en saamkuier nie. Sommige bring die feestyd alleen deur en vir party is ’n klein geskenkie dalk die enigste een wat hulle dié Kersfees sal ontvang.

Die agtste Senior Serenade, in samewerking met Pro Strings en vriende, vind vanjaar weer in Bloemfontein plaas. Verlede jaar is 700 bejaardes met klassieke musiek, Kersliedere en spesiale geskenkpakkies bederf. Die projek wil ook vanjaar dieselfde aantal bejaardes bereik en vir hulle ’n bietjie ekstra liefde en aandag tydens die feestyd gee.

Sharon de Kock, stigter, sluit by Yolanda Maartens aan in die OFM Kunsteklop om meer te vertel oor die projek, wat dit vir die bejaardes beteken en hoe die publiek kan help om vanjaar se doelwit te bereik. Saam met haar in die ateljee is Cherise Louw (13) wat haar tyd en talent as vrywilliger deel, asook Ilané van Wyk, ’n professionele musikant en jarelange ondersteuner van die projek.

Die geskenkpakkies bestaan uit noodsaaklike toiletware en ’n paar soet bederfies. Dit klink dalk na eenvoudige items, maar die glimlagte wat dit bring, is onbetaalbaar. Die bejaardes geniet ook die klassieke musiek en Kerssang wat deel vorm van die uitreik. Musiek bring herinneringe, nostalgie en ’n gevoel van samesyn – iets wat veral vir ouer mense, wat soms maklik deur die samelewing vergeet word, baie belangrik is.

Sharon, Cherise en Ilané vertel ook waarom Senior Serenade elke jaar so na aan hul hart lê en hoe die projek nie net die ontvangers se lewe verryk nie, maar ook vir die vrywilligers ’n besondere betekenis het.

Hoe kan jy help?

Die publiek word uitgenooi om finansieel by te dra of ’n aantal items te skenk om te verseker dat die bejaardes hierdie Kersfees ’n geskenkpakkie ontvang.

Items wat benodig word, sluit in:

  • Toiletware: deodorant, seep, tandepasta, tandeborsels, waslappe, sjampoe, Lip Ice en lyfroom.

  • Soet bederfies: Kolwyntjies of ’n finansiële bydrae om fudge te maak.

Die uitreik vind vanjaar van 13 tot 15 Desember plaas. As jy graag betrokke wil raak of ’n bydrae wil maak, kontak Sharon de Kock by 082 434 7501.

Elke bydrae, groot of klein, kan help om hierdie Kersfees vir iemand besonders te maak. Soms is dit juis ’n klein gebaar wat iemand laat voel dat hulle nie vergeet word nie.

OFM dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.