Business
Kwêla se ‘Dorp van die Jaar’-titel gee Kroonstad ’n hupstoot─── OLEBOGENG MOTSE 20:14 Tue, 11 Jul 2023

Om in 2022 as Kwêla se ‘Dorp van die Jaar’ aangewys te word het belangstelling, beleggings en geleenthede vir Kroonstad in die Vrystaat meegebring.
André van Pletzen, die stigter van Ignite and Revive Kroonstad – die beweging wat verandering in die dorp teweeggebring het – sluit by die OFM Sakeuur aan. Hy sê Kroonstad het die aandag getrek van die provinsiale en nasionale regering, veral president Cyril Ramaphosa, asook verskeie sakelui.
Vakante poste by die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit het skielik belangstelling gelok.
Van Pletzen sê vordering wat in Kroonstad gemaak is, was benadeel omdat die vakatures nie gevul was nie. Dit blyk egter dat die situasie reggestel word ná die onlangse aanstelling van Portia Tshabalala as Moqhaka se permanente munisipale bestuurder. Daar is ook planne met die aanstelling van ’n permanente finansiële hoof .
LEES OOK: Burgerlike groepe red die land van ’n algehele instorting
Die Ignite and Revive-fees
’n Doelwit van Ignite and Revive Kroonstad is om jaarliks toeriste na die dorp te lok en niks is beter as ’n musiekfees nie. Die Ignite and Revive-fees vind van 1 tot 3 September 2023 by die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool). Dit sluit in ’n teetuin, landbou-uitstallings, kosstalletjies, ’n kinderpretpark, asook vermaak. Kunstenaars soos Bok van Blerk, Refenstse, Reën, Franja du Plessis, Danny Smoke, Willem Botha, Kurt Darren en Carmen Basson sal die mense vermaak.
LEES OOK: Potch het baie geleenthede - Potchefstroom Sakekamer
Kwêla se 2023 ‘Dorp van die Jaar’ word later vanjaar aangewys, terwyl Kroonstad steeds die lewe van sy inwoners wil verbeter.