Central SA
Polisie in Noordwes lê beslag op 28 wapens─── 07:24 Fri, 24 Mar 2023

Die polisie in Noordwes maak vordering daarmee om onwettige vuurwapens te verwyder wat dikwels gebruik word om ernstige en gewelddadige misdade te pleeg.
Kol. Adele Myburg, woordvoerder van die polisie in die provinsie, sê polisielede het tussen Saterdag 18 Februarie en Woensdag 22 Maart 2023 tydens verskeie misdaadbekampingsoperasies op altesame 28 vuurwapens beslag gelê.
In een van die voorvalle is ’n 38-jarige man in Kanana naby Orkney in hegtenis geneem nadat hy op Vrydag 17 Maart 2023 in besit van twee vuurwapens gevind is. Dit het gevolg nadat inligting ontvang is oor 'n man wat moontlik voornemende kopers van onwettige vuurwapens sou ontmoet.
Drie lede wat nie aan diens was nie, het 'n verdagte man by Hardystraat met ’n toegedraaide pakkie opgemerk. Die man is deursoek en in hegtenis geneem nadat 'n jaggeweer, 'n haelgeweer en ammunisie by hom gevind is.
Een van die vuurwapens word verbind met ‘n inbraak en diefstal wat in 2011 by Kwa Msani in Kwa-Zulu Natal gepleeg is. Die verdagte het Woensdag 22 Maart 2023 in die Orkney-landdroshof verskyn.
In ‘n ander voorval het die polisie inligting opgevolg en op Saterdag 18 Maart 2023 ‘n 37-jarige man in Brits in hegtenis geneem vir die besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen.
‘n 39-jarige man van Phokeng in Rustenburg is Sondag 19 Maart 2023, in hegtenis geneem nadat hy glo tydens ‘n stryery ‘n vuurwapen uitgepluk en op ‘n ander man gerig het. Omstanders het ingegryp en kon daarin slaag om die situasie onder beheer te bring. Die man het Woensdag 22 Maart 2023 in die Bafokeng-landdroshof verskyn op aanklagte van die onwettige besit en rig van ‘n vuurwapen.
Die provinsiale kommissaris, lt.genl. Sello Kwena, het die polisie geloof vir die ontwapening van misdadigers wat vuurwapens gebruik om lede van die gemeenskap te terroriseer deur ernstige en gewelddadige misdade te pleeg.
“Die verhoogde sigbaarheid en misdaadbekampingsoperasies sal voortgaan om te verseker dat diegene wat die oppergesag van die reg verontagsaam in hegtenis geneem word.”